Julian De Wette

Julian Leslie de Wette is 'n Suid-Afrikaanse digter en skrywer.

Sommige van sy publikasies sluit in "Die koning in die buiteland", "Tussen duine gebore" en ander.

Lewe en werk

Julian Leslie de Wette is op 26 Junie 1951 in Kaapstad as een van vyf kinders gebore. Sy pa is oorspronklik van die Oos-Kaap en is ’n onderwyser by ’n nywerheidskool in Ottery in die Kaap, en sy ma is oorspronklik van Wepener in die Vrystaat. Hy kry sy skoolopleiding aan die Engelstalige South Peninsula Secondary School in Dieprivier, waar hy in 1969 matrikuleer. Op skool is Richard Rive sy Engels en Latyn-onderwyser. Na matriek gaan hy na Zoeloeland waar hy in ’n sendinghospitaal werk. In 1972 gaan hy oorsee, eers na Engeland, toe na Switserland en Nederland waar hy medies bestudeer en in 1973 gaan hy na New York. Vanaf Januarie 1973 tot Desember 1975 studeer hy aan die Sarah Lawrence College, waar hy ’n B.A.-graad behaal met Engels, Duits, Ekonomie en Internasionale Betrekkinge as vakke.

Hy bring ’n groot deel van sy lewe in die buiteland deur, veral in New York, waar hy vanaf 1973 tot 1989 woon. Vir ongeveer sewentien jaar tot 1997 is hy beampte vir die Verenigde Nasies se Departement Openbare Inligting, hoofsaaklik in New York in die Verenigde State van Amerika. In 1989 word hy oorgeplaas na Londen in Engeland, waar hy vir twee jaar werk. Hy doen ook diens in Windhoek in Namibië, Kazakstan, Genève in Switserland en Bonn in Duitsland. Hy is in Windhoek tydens die oorgangstyd na onafhanklikheid en werk hier in die kantoor van die Verenigde Nasies se spesiale verteenwoordiger, waarna hy vir ’n kort ruk terug is na Londen. Dan word hy uitgeplaas na Kazakstan in die voormalige Sowjetunie, waar hy vir byna drie jaar werk as waarnemende hoof van die Verenigde Nasies-kantoor. In 1998 bedank hy by die Verenigde Nasies en hy en sy vrou keer terug na Suid-Afrika. Hulle vestig hulle eers op Glencairn en later op Napier. Hy stig Mnandi Productions in die Bronx in New York in 2005, ’n organisasie wat hom daarvoor beywer om “The Barber of Bree Street” en ander Suid-Afrikaanse musiekspele in Amerika, Europa en Suid-Afrika te bevorder. Die boek van John Ankele, “Rise Up and Walk – the Life and Witness of the African Indigenous Churches”, word op DVD beskikbaar gestel en hy is die verteller daarop. Hy tree op by Versindaba in Stellenbosch in 2005 en per geleentheid by die Woordfees, waar hy van sy gedigte voorlees.

Skryfwerk

Reeds op dertienjarige ouderdom stuur hy van sy gedigte aan Jan Rabie en die volgende jaar aan Jack Cope, wat hom aanmoedig. Sy eerste gedigte verskyn in Afrikaans in Contrast en later ook in Donga. Soos die titel aandui is die vernaamste tema van die gedigte in “Die koning in die buiteland” die verplasing van die individu na ’n vreemde land, veral deur vrywillige ballingskap, waar hy in vreemdelingskap sy lewe slyt. Die bundel bevat ook gedigte oor persone wat in die middelpunt staan van dramatiese gebeure en enkele liefdesverse. Die kritici is merendeels van mening dat die bundel belofte toon, maar dat die gedigte nog baie ongelyk in gehalte is. In besonder word die satire en ironie van die tema nie na behore benut nie, hoewel die titelgedig ’n hoogtepunt is. In “Verban: verbinne” dui die titel weereens die sentrale tema aan, naamlik die inkeer tot sigself as ’n gevolg van ballingskap, aangesien die individu afgesluit is van die mense en dinge wat vir hom bekend en dierbaar is. Die bundel toon vordering op die gebied van tegniese vernuf, veral in die verskerpte fokus op die tema van die gedig, maar toon steeds gebreke in die gebruik van clichés en ondeurdagte beeldspraak. “Tussen duine gebore” is die eerste bundel na sy terugkeer na sy vaderland en is in sy sterker ontwikkelde sintuiglikheid ’n vooruitgang op sy vorige bundels. Die gedigte is, soos die titel aandui, tekenend van ’n nuwe geboorte en wording, met die verwagtinge daaruit voortspruitend. In hierdie bundel is die terugkeer na die vaderland en die herinneringe aan die jeug en familielede vername temas, hoewel hy steeds kommentaar lewer oor die ontneming van die mens se regte en waardigheid onder ’n onregverdige bestel. Die gedigte word geskryf met ruim gebruik van Ou Testamentiese Bybelverse, wat as motto’s dien vir vier van die ses afdelings en waarin God se volk se wedervaringe in die woestyn as agtergrond dien vir baie van die verse.

Van sy gedigte word opgeneem in versamelbundels soos “Groot verseboek” en “Die Afrikaanse poësie in ’n duisend en enkele gedigte” en dit word ook in Nederlandse en Belgiese bloemlesings opgeneem. Hy skryf ook gedigte in Engels en deur die jare verskyn dit in tydskrifte soos New Contrast, Poetry Australia en Observations in New York, terwyl dit ook in die bloemlesing “Somehow we survive” in New York gepubliseer word.

Hy lê reeds in 1982 ’n Engelse roman onder die werkstitel “Potiphar’s wife” aan die uitgewer Doubleday in New York voor. Die keurderverslag deur Jackie Onassis, weduwee van president John F. Kennedy van Amerika en die Griekse skeepsmagnaat Ari Onassis, beveel publikasie sterk aan. Die boek word egter nie gepubliseer nie en word afgekeur deur ’n paar ander uitgewers. Eindelik verskyn die boek in 2010 onder die titel “A case of knives”. Die verhaal speel af in die Suid-Afrika van die sestigerjare van die twintigste eeu, kort na Republiekwording en midde-in die intense implementering van die apartheidsbestel. Die hoofkarakter is die jong bruin man Enoch Pretorius, wat kontak maak met Suid-Afrika se staatshoof, dr. Sybrand Schoon (met duidelike toespelings op dr. Hendrik Verwoerd), omdat sy oupa Hans as tuinier by hom werk. Hans is sterk betrokke by die politieke woelinge van die tyd en tree aan die een kant op as tussenganger vir die Minister van Naturellesake en die stinkryk Transkeise toordokter, Khotso Sethuntsa, terwyl hy aan die ander kant ook ’n linkse politieke aktivis is. Die mag van die toordokter in die swart gemeenskap en die impak daarvan ook op die witmense, word geïllustreer deur Schoon se middernagtelike besoeke aan Sethuntsa om van sy sterk medisyne te verkry. Hans vertel sy stories aan Enoch, wat dit dan weergee. Hierdie is een van die min romans oor die Verwoerd-era en bied ’n akkurate beeld van die politieke klimaat en die denkwyses van daardie tyd. “A case of knives” word in 2011 benoem vir die Sunday Times fiksieprys.

Sy drama, “Sister Priscilla’s Dilemma: The nun with a gun”, is in Engels en Spaans gepubliseer. Die drama speel af in ’n sendingstasie in Emoyeni in KwaZulu-Natal.

Publikasies

  • 1977 – Die koning in die buiteland
  • 1980 – Verban: verbinne
  • 2003 – Tussen duine gebore
  • 2010 – A case of knives
  • 2011 – Sister Priscilla’s dilemma: The nun with a gun

Verwysings

Boeke

  • Cloete, T.T. (red.) “Die Afrikaanse literatuur sedert sestig” Nasou Beperk Eerste uitgawe 1980
  • Kannemeyer, J.C. “Die Afrikaanse literatuur 1652-2004” Human & Rousseau Kaapstad en Pretoria Eerste uitgawe 2005
  • Van Coller, H.P. (red.) “Perspektief en Profiel Deel 2” J.L. van Schaik-Uitgewers Pretoria Eerste uitgawe 1999
  • Van Coller, H.P. (red.) “Perspektief en Profiel Deel 3” Van Schaik-Uitgewers Pretoria Eerste uitgawe 2006
  • Willemse, Hein “Aan die ander kant” Protea Boekhuis Pretoria Eerste uitgawe Eerste druk 2007

Tydskrifte en koerante

  • Hattingh, Marion en Van Wyk, Steward “Julian de Wette: Digter terug na jare in die buiteland” “Karring Veertien” Winter 1998

Internet

Resensies

A case of knives

  • Van der Merwe, Kirby “Rapport” 5 September 2010

Die koning in die buiteland

  • Brink, André P. “Rapport” 4 September 1977
  • Cloete, T.T. “Tydskrif vir Geesteswetenskappe” Jaargang 18 no. 2, Junie 1978

Tussen duine gebore

  • John, Philip “Beeld” 21 April 2003
  • Pieterse, H.J. “Insig” Maart 2003

Verban: verbinne

  • Brink, André P. “Standpunte” Nuwe reeks 154, Augustus 1981
  • Cloete, T.T. “Tydskrif vir Letterkunde” Nuwe reeks 19 no. 2, Mei 1981
  • Cloete, T.T. “Tydskrif vir Geesteswetenskappe” Jaargang 21 no. 2, Junie 1981
  • Le Roux, André “Beeld” 16 Februarie 1981

Tags:

Julian De Wette Lewe en werkJulian De Wette SkryfwerkJulian De Wette PublikasiesJulian De Wette VerwysingsJulian De WetteDigterSkrywerSuid-Afrika

🔥 Trending searches on Wiki Afrikaans:

MuskietKaartLys van deelnemers aan die Slag van BloedrivierWinterMarsDepressie (gemoedstoestand)WelwitschiaKrugerwildtuinYouTubeDoelwitMenslike seksuele gedragSharpeville-slagtingAardverwarmingBruin menseRamsar-vleilande in Suid-AfrikaMaatskaplike verantwoordelikheidEkonomieAfrikaRenteVakbondSekondêre sektor van die ekonomieMenseregtedagLeeuWikipediaHerpes simplexTydsoneJacques LootsSpelerposisies in rugbySeksueel oordraagbare infeksieMusiekSeksposisieAngolese BurgeroorlogDriehoekSpoorvervoer in Suid-AfrikaVulkaanOranjerivierJuraVerenigde State van AmerikaOrthopteraRassismeSublimasieAngssteuringKappie (skryfteken)KunselementeLys van Suider-Afrikaanse soogdiereMosambiekVaste stofMona LisaSimboolNasiebouSmaakImmunologieKalenderRumatiekWatersuiweringGeskiedenis van AfrikaansKasteel die Goeie HoopKoedoeGrondsoorteZack du PlessisRooikatPerdebyeSydneyVingerseksDigvormWêreld- Ekonomiese ForumJeanette FerreiraOrale seksAkroniemErosieSeekatKinderregteMarie AntoinetteNeurenberg-verhoreSwaweldioksiedVryheidsmanifesJak de Priester🡆 More