Johann Heinrich Bekker (*13 April 1918, Klerksdorp –† 5 Februarie 1985, Voortrekkerstrand) was 'n Suid-Afrikaanse skrywer.
Hy skryf hoofsaaklik ontspanningslektuur vir volwassenes, maar verwerf veral bekendheid met sy jeugverhale. Hy maak ook van die skuilnaam J. Heinrich gebruik.
Bekker is op 13 April 1918 op die plaas Opraap in die Klerksdorp distrik gebore. Sy vader is Johannes Jurie Bekker en sy moeder Jacomina Margaretha Scheffer. Hy het 'n ouer broer (Nicholaas Gerhardus) en suster (Hendrina Margaretha) en 'n jonger halfbroer en halfsuster uit sy vader se tweede huwelik met Hester Vermaas.
By Opraap gaan hy op die plaas skool in 'n tweemanskooltjie met Meester (mnr. H.M.P. Visser) as hoof en matrikuleer dan in 1935 aan die Potchefstroom Gimnasium. Hy studeer verder aan die Potchefstroomse Universiteitskollege en verwerf in 1938 'n B.A.-graad en in 1939 'n Universiteits Onderwysdiploma.
In 1940 gee hy vir 'n jaar onderwys in Pretoria aan Pretoria-Noord se Afrikaans mediumskool en Langkloof. Hy word in 1941 hoof van die tweemanskool Waterval op die plaas Langkloof naby Loskopdam, die buurplaas van generaal J.B.M. Hertzog. Hier leer hy die generaal en veral sy seun Charles goed ken. As gevolg van asma word hy verplig om terug te gaan Hoëveld toe. Hy is daarna as onderwyser betrokke by Rooipoortskool, in 1948 as visehoof van Zoutpansdriftskool op Brits en vanaf 1949 as hoof van Hekpoortskool.
Hy is in Desember 1941 met Elizabeth Hendrina (Betsie) Booyens getroud en twee seuns, Jan (Johannes Jurie) en Kobus (Jacobus Jeremias), word uit die huwelik gebore. Sy vrou se ouers is J.J. Booyens, een van die eerste groep onderwysers wat aan die Zuid-Afrikaansche Republiek se Normaalkollege in Pretoria afgestudeer het, en Elizabeth McDonald.
Intussen studeer hy deeltyds verder aan die Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys en behaal in 1947 'n B.Ed.-graad, in 1950 'n M.Ed.-graad met 'n verhandeling oor Onderwys in die Bo-Moot, gesien teen die agtergrond van die Transvaalse onderwysgeskiedenis: 'n histories-kritiese oorsig en in 1954 die D.Ed.-graad met 'n proefskrif oor Godsdiens in die onderwys van blankes in Transvaal tot 1953. As lektor sluit hy hom in 1953 aan by die Pretoria Onderwyskollege en word daarna departementshoof by die Heidelberg Onderwyskollege. Hierna word hy in 1964 senior lektor in Opvoedkunde by die Universiteit van Suid-Afrika en daarna in 1967 by die Universiteit van Durban-Westville, waar hy vanaf 1968 professor is en by tye dekaan van die Departement Opvoedkunde.
Hy reis gereeld oorsee vir navorsing, en hy het ook in Nederland 'n reeks lesings gelewer. Hy was outeur van verskeie artikels in vakkundige tydskrifte en medeskrywer van twee opvoedkundige handboeke in Engels, terwyl hy ook die gesaghebbende standaardwerk vir onderwysopleiding, Aspekte van die organisasie en administrasie van die Transvaalse openbare onderwys, geskryf het.
In 1976 word hy deur die destydse Minister van Kleurlingsake benoem as voorsitter van die adviesraad vir die opleiding van Kleurlingonderwysers. In kerkkringe is hy bekend vir sy bydraes in verskeie kerklike publikasies oor 'n wye reeks onderwerpe. Hy is ook vir jare lid van die Gereformeerde Kerke van Suid-Afrika se sinodale deputate vir Christelike Nasionale Onderwys.
Sy radioverhale en praatjies word dikwels oor die Afrikaanse diens van die Suid-Afrikaanse Uitsaaikorporasie uitgesaai. In 1979 tree hy af, waarna hy en sy vrou op Voortrekkerstrand aan die Natalse Suidkus gaan woon.
Hy is op Dinsdag 5 Februarie 1985 aan 'n hartaanval in sy huis op Voortrekkerstrand oorlede.
In 1942 begin hy saam met sy kollega by die tweemanskool, I.S. Waltman, om verhale te skryf. Sedertdien skryf hy talle kortverhale, vervolgverhale, sketse en kindergedigte vir publikasies soos Die Huisgenoot, Die Jongspan, Die Ruiter, Die Huisvrou, Die Landbouweekblad, Die Loopbaangids, Die Transvaler en Die Brandwag. Hy skryf onder die name Johann Bekker en J. Heinrich.
'n Tradisie van die Vermeulens en ander verhale (1981) is 'n bundel kortverhale gekeur uit verhale wat almal voorheen in tydskrifte verskyn het en wat ook deur onderwysdepartemente voorgeskryf is. Die titelverhaal is in Die Huisgenoot gepubliseer en verower die destydse Maandprys as beste kortverhaal. Sy kortverhaal Rommel word deur Abraham H. de Vries in die versamelbundel Steekbaard opgeneem.
Het van Verlangekraal word in 1962 deur Carfo tot rolprent omskep onder die titel Gee my jou hand en in 1983 deur Jan Scholtz-Films (met Fred Nel as regisseur en Leon van Nierop as draaiboekskrywer) ook vir die televisie verfilm en gebeeldsend. Die probleemkind Het Heiberg is in haglike huislike omstandighede vasgekeer en word hier gereeld aangerand. Om sake te kompliseer kry sy op skool te doen met 'n hoof (Erlank) wat streng dissipline toepas en 'n onderwyser (Doep du Plessis) wat meer simpatiek sielkundig te werk gaan. Wanneer Het 'n pop steel en daaroor vir Erlank lieg, gee hy haar 'n loesing. In haar woede vandaliseer Het Doep du Plessis se klaskamer, maar hy reageer met begrip. Deur hierdie verhaal beeld die skrywer subtiel uit watter faktore alles tot wanaangepastheid aanleiding kan gee en word uitgebeeld dat 'n onderwyser eers 'n kind se agtergrond moet verstaan voordat hy gevolgtrekkings maak. Die verhaal word aangebied uit die perspektief van 'n simpatieke volwassene, maar word desondanks ook wyd deur kinders gelees, sodat dit sy bekendste roman word.
In Dag van die wildehond (1969) wil die Braun-gesin Satanda Dibi met sy vrugbare grond uitbou tot model-nedersetting in die wildernis. Die Baron vestig hom egter in die kloof en hy is vasbeslote om hulle van Satanda Dibi te verwilder.
Reën plek-plek (1976) beeld die stryd tussen die skoolhoof Theo Smit en die onderwyser Ernie Lategan uit. Die hoofinspekteur gryp later in en Liz bring 'n besoek aan die skool, wat 'n groot krisis in Theo se lewe begin. Hy besef wat Ernie in die mou voer en die implikasies as hy suksesvol sou wees oorweldig hom.
Safari van die dood(1977) is 'n avontuurverhaal, waar Ben Wes-Afrika invaar met drome van winsgewende jagte en diamantkonsessies. Hy wil graag aan sy vrou Yvonne bewys dat hy alles beter kan doen as Nic, die grootwildjagter en safarileier aan wie sy vroeër verloof was. Wanneer hy verdwyn roep Yvonne egter Nic se hulp in om hom te help soek. Hulle word almal ingetrek in die burgeroorlog van die staat Bo-Intonga en eindelik kry almal heelwat meer as waarop hulle gereken het.
Gonzales leef! (1977) word geïnspireer deur die militêre aanhouding van president Peron van Argentinië en is 'n spanningsverhaal wat verder geen verband met hierdie gebeure hou nie.
Safari Braganza (1977) is Mimosa-Toere se gewildste toer. Dit vind plaas na Angola, in die dae voor die Portugese hulle onttrek het en terwyl die terroriste-aanslag elke dag in hewigheid toeneem. Dis duidelik dat die finale, deurslaggewende konfrontasie nie lank kan uitbly nie. In hierdie plofbare situasie beweeg die groep Suid-Afrikaanse toeriste van Safari Braganza Angola binne. Willem von Benecke is 'n ou vriend van Cas van Vuuren, die eienaar van Mimosa Toere. Hy gaan saam om dinge dop te hou en gou begin hy klein dingetjies opmerk, maar voor hy besef wat gebeur is hy kniediep in die moeilikheid.
In Onrus op Surrey (1978) gaan Jonathan Eybers na die pragplaas Surrey om 'n artikel te skryf oor die vreemde wyse waarop die bekende rugby Springbok, Jackie du Plessis, verdrink het. 'n Tweede ongeluk vind egter plaas en dit is duidelik dat alles nie pluis is nie.
Roel Keet en Kie (1980) is 'n spanningsverhaal met diamantsmokkelary in die Namib-woestyn naby Swakopmund as tema.
In Eiland van onrus (1982) is Paradyseiland 'n rustige bosveld-paradys, maar Patrick Kyle wil 'n casino daar oprig. Peet Blokker en Marianne Minnaar weier om hulle grond vir hierdie rede te verkoop. 'n Gemaskerde moordenaar verwurg dan 'n jong vrou en skielik is Marianne se lewe in gevaar. Vier van Johann Bekker se verhale word tot radiovervolgverhale verwerk en uitgesaai.
Dit is egter veral met sy jeugverhale wat hy 'n wesenlike bydrae lewer. Hy debuteer in 1943 met 'n vervolgverhaal (Gerhard Eksteen se pogings) in Loopbaangids, waarvoor hy ook 'n prys verower. Hierna skryf hy Pikkie en die seunsbende, Snaakse gebeurtenisse op Boshoek en Die buffeltemmer as vervolgverhale in Die Jongspan. Die Christelike verhaal, Dakka se groot avontuur (1947), verwerf in 1947 'n CSV-boekhandelprys.
In Pikkie en die seunsbende (1948) sukkel Pikkie om aan te pas nadat hy en sy ma en sustertjie van die plaas na die stad moes verhuis. Na 'n vuisgeveg word hy egter lid van Tos en sy bende en word later leier van hierdie bende. Hulle vang verskeie redelik onskuldige kwajongstreke aan, maar dan gaan Pikkie in sy oormoed te ver en bots met die gereg. Só leer hy 'n duur maar waardevolle lewensles.
Kruitdamp (1949) is 'n avontuurverhaal uit die Anglo-Boereoorlog en Onheil op Verwagting (1951) is 'n avontuurverhaal vir seuns.
Kobus in Meerminland (1962) is twee fantasieverhale bedoel vir kleuters of jong kinders.
In Avonture in Smenskieland (1962) kry die tandlose Jantjie met groot moeite en geduld in Smenskieland weer vir hom 'n stel tande.
In Cessna vermis (1963) gaan soek drie wit kinders, 'n swart kind en die plaashulp na 'n vermiste Cessna in die Noord-Transvaalse bosveld. Hierdie boek word gereeld deur onderwysdepartemente voorgeskryf.
Die buffeltemmer (1965) is die verhaal van 'n wit seun en meisie wat apart onder swart mense groot geword het en die seun se soektog na haar. Hy is 'n wit Voortrekkerkind wat deur die Matabeles weggevoer en groot gemaak is. “Duisend tree suid” (1977) word voorgeskryf deur onderwysdepartemente.
Die rooi wal (1979) is 'n avontuurverhaal wat in die woestyn afspeel.
Die Palomino (1981) beeld 'n wit (Tjaan) en swart (Tendani) seun uit wat saam in Vendaland gaan soek na die groot neushoringvoël wat wense laat waar word, sodat Tjaan se wens verwesenlik kan word om die wilde Palomino-perd te ry voordat hy moet terugkeer stad toe.
Duin Drie (1981) is in 1981 'n mededinger vir die Perskorprys vir jeuglektuur. Dit is meer as 'n verhaal van skurke en diamante, want by hierdie duin in die woestyn lê die verlede van mense toegewaai, die skurke en die hoofkarakters inkluis. Mense kom hierheen om iets te vind, maar dit wat hulle vind is nie noodwendig wat hulle soek nie en die ervaring het groot impak op hulle lewens.
Waghond van Hartbeeslaagte (1984) verower in 1984 die tweede prys in 'n jeugverhaalwedstryd van J.P. van der Walt Uitgewers en word in 1985 bekroon met die Federasie van Rapportryerskorpse se prys vir jeugliteratuur. Hierdie verhaal speel tydens die Anglo-Boereoorlog af, waar die veertienjarige hoofkarakter Christof Joubert verskeur word tussen sy lojaliteit aan sy volk op die slagveld en sy lojaliteit aan sy gesin wat haweloos is nadat hulle plaasopstal afgebrand is.
In Die aand van Johnnie X (1985) wil Fritz Grové wegkom van sy ma en haar nuwe man. Hy roep Johnnie X se hulp in om weg te kom, maar Johnnie onthou nog hoe dit eintlik Fritz se skuld is dat die hof hom destyds skuldig bevind het. Johnnie besluit om wraak te neem en in die aand van Johnnie X kan daar net een wenner wees.
Fiksie
1947
1948
1949
1950
1951
1952
1953
1957
1960
1962
1963
1965
1969
1975
1976
1977
1978
1979
1980
1981
1982
1983
1984
1985
Opvoedkundige werke
1957 – Die verhouding van ouer tot onderwyser
1960 – Godsdiensonderwys in die skool
1963 – Verantwoorde skooltug
1965 – Aspekte van die organisasie en administrasie van die Transvaalse openbare onderwys
1969 – Onderwysopleiding, met besondere verwysing na Brittanje: Verslag van navorsing tydens 'n besoek aan verskeie lande
1976 – A basic philosophy of education
1951
1953
This article uses material from the Wikipedia Afrikaans article Johann Heinrich Bekker, which is released under the Creative Commons Attribution-ShareAlike 3.0 license ("CC BY-SA 3.0"); additional terms may apply (view authors). Inhoud is onderhewig aan CC BY-SA 4.0, tensy anders vermeld. Images, videos and audio are available under their respective licenses.
®Wikipedia is a registered trademark of the Wiki Foundation, Inc. Wiki Afrikaans (DUHOCTRUNGQUOC.VN) is an independent company and has no affiliation with Wiki Foundation.