Jo Nesbø (* 29 Maart 1960 in Oslo) is 'n bekroonde Noorse spanningsverhaalskrywer en musikus.
Ná sy akademiese opleiding as ekonoom en finansiële analis aan die Noorse Handelshøyskole was hy werksaam as aandelemakelaar en joernalis, terwyl hy gelyktydig ook die sanger en liedjieskrywer van die popgroep Di Derre was.
Jo Nesbø | |
---|---|
Jo Nesbø in 2008 | |
Gebore | 29 Maart 1960 |
Nasionaliteit | Noorweë |
Beroep | Spanningsverhaalskrywer en musikus |
Bekend vir | Rødstrupe (2000) Sorgenfri (2002) Marekors (2003) Snømannen (2007) |
Webwerf | www.jonesbo.com |
Jo Nesbø is in Molde grootgemaak. Sy moeder was as bibliotekaresse werksaam en het al vroeg sy belangstelling vir literatuur gewek. Nogtans het hy op skool nie baie goed gedoen nie en was vasberade om 'n loopbaan as professionele sokkerspeler by Tottenham te volg. Op die ouderdom van 17 jaar het by Molde se voetbalklub (Molde Fotbalklubb) gedebuteer, van die skool weggebly en hom liewer op voetbal gekonsentreer. 'n Tyd later is die anterior kruisligamente in sy knieë geskeur, en Nesbø was genoodsaak om sy loopbaan as voetbalspeler te staak.
Nesbø het in Noord-Noorweë drie jaar lank diensplig gedoen en sy vrye tyd gebruik om sy agterstand in sy skoolvakke in te haal. Ná die einde van sy diensplig het hy Norges Handelhøyskole in Bergen ingeskryf. Hier het hy saam met studentemaats die popgroep De Tusen Hjem gestig, wat egter nooit sukses behaal het nie en ontbind is toe Nesbø ná die voltooiing van sy graad na Oslo verhuis het.
In Oslo het Nesbø die finansiële bedryf betree en al sy musikale ambisies laat vaar totdat hy na 'n jong jazz-basspeler geluister het. Op die volgende dag het die twee die groep Di Derre gestig. Een jaar later was hulle al op konserttoer, en twee jaar later het hulle 'n platekontrak gekry. Nesbø was gelyktydig as aandelemakelaar werksaam, maar ná 'n jaar waartydens hy bedags gewerk en saans opgetree het, het hy genoeg had. Hy het 'n halfjaar verlof geneem en na Australië gevlieg. Net kort voor sy vertrek het 'n medewerker van 'n uitgewery hom gevra of hy nie 'n boek sou kon skryf nie. Tydens die dertig uur, wat sy vlug na Australië geneem het, het die plot vir die roman Flaggermusmannen ("Die Vleermuisman") ontvou. 'n Halfjaar later het Nesbø met 'n boekmanuskrip in sy koffer na Oslo teruggevlieg.
Die manuskrip van Flaggermusmannen is onder 'n pseudoniem aan die Aschehoug-uitgewery gestuur om te verhoed dat Nesbø se bekendheid die literêre waardering sou beïnvloed. Aschehoug het besluit om die boek uit te gee, en in die najaar van 1997 was dit by boekwinkels beskikbaar. Die roman was 'n weghol-sukses en is onder meer as die beste Noorse speurverhaal met die Riverton-prys en as die beste Skandinawiese speurverhaal met die Glasnøkkel bekroon.
Van Nesbø se roman Snømannen ("Die Sneeuman") is in 2007 al in die eerste werk ná verskyning 160 000 eksemplare verkoop. Die boek was sodoende die mees verkoopte Noorse roman ooit.
Nesbø se Rødstrupe is in 2000 met die Noorse Bokhandlerprisen bekroon. Die Engelse vertaling The Redbreast is in 2006 as die beste vertaalde misdaadroman in 'n Engelssprekende land en in 2007 vir die Britse Crime Writers' Association se Duncan Lawrie International Dagger-prys benoem. Nesbø het in 2007 nog eens die Noorse Bokhandlerprisen gewen met sy roman Snømannen.
Jo Nesbø se boeke het meer as 33 miljoen eksemplare wêreldwyd verkoop en is in vyftig tale vertaal.
Jo Nesbø se speurverhale handel om inspekteur Harry Hole, met uitsondering van Hodejegerne.
This article uses material from the Wikipedia Afrikaans article Jo Nesbø, which is released under the Creative Commons Attribution-ShareAlike 3.0 license ("CC BY-SA 3.0"); additional terms may apply (view authors). Inhoud is onderhewig aan CC BY-SA 4.0, tensy anders vermeld. Images, videos and audio are available under their respective licenses.
®Wikipedia is a registered trademark of the Wiki Foundation, Inc. Wiki Afrikaans (DUHOCTRUNGQUOC.VN) is an independent company and has no affiliation with Wiki Foundation.