Jakobus I (Engels: James I; 19 Junie 1566 – 27 Maart 1625) was koning van die Skotte (as Jakobus VI), van Engeland en van Ierland.
Hy was die eerste persoon wat na homself verwys het as koning van Groot-Brittanje. In Skotland het hy van 24 Julie 1567 tot en met sy dood as Jakobus VI regeer. Ná die dood van sy niggie Elizabeth I het hy koning van Engeland en Ierland geword waar hy van 24 Maart 1603 tot en met sy dood regeer het. Hy was die eerste Engelse monarg van die Huis van Stuart.
Jakobus I | |
---|---|
Koning van Engeland, Ierland en Skotland | |
’n Portret deur Paul van Somer I (1576–1621) | |
Titel | Koning van Skotland |
Regeer | 24 Julie 1567 – 27 Maart 1625 |
Voorganger | Maria I |
Opvolger | Karel I |
Titel | Koning van Engeland en Ierland |
Regeer | 24 Maart 1603 – 27 Maart 1625 |
Voorganger | Elizabeth I |
Opvolger | Karel I |
Huis | Stuart |
Eggenote | Anna van Denemarke |
Kinders | Hendrik Frederick, Prins van Wallis Elizabeth, koningin van Boheme Karel I Robert Stuart, Hertog van Kintyre |
Gebore | 19 Junie 1566; Edinburg-kasteel |
Oorlede | 27 Maart 1625; Theobalds House, Hertfordshire, Engeland |
Vader | Hendrik Stuart, lord Darnley |
Moeder | Maria I |
Jakobus Karel Stuart is op 19 Junie 1566 in Edinburg-kasteel gebore as die oudste seun van Maria, koningin van die Skotte (Engels: Mary, Queen of Scots) en haar tweede man, Hendrik Stuart, lord Darnley. Jakobus was ’n afstammeling van koning Hendrik VII van Engeland deur sy oumagrootjie Margaret Tudor, die oudste suster van Hendrik VIII.
Maria se bewind in Skotland was onseker omdat ’n rebellie deur die Protestantse bevolking haar en haar man, wat Katolieke was, in die gesig gestaar het. Hendrik is op 10 Februarie 1567 vermoor. Maria was toe reeds ’n ongewilde koningin en dit is vererger toe sy op 15 Mei 1567 trou met James Hepburn, 4de Graaf van Bothwell, wat daarvan verdink is dat hy Hendrik vermoor het.
In Junie 1567 het Protestantse rebelle Maria gearresteer en sy het nooit weer haar babaseun gesien nie. Sy is 24 Julie gedwing om te abdikeer ten gunste van haar seun. Haar buite-egtelike halfboer, Jakobus Stewart, Graaf van Moray, is as regent aangestel. Haar seun is op 29 Julie 1567 op die ouderdom van dertien maande as koning Jakobus VI van Skotland gekroon. Hy is grootgemaak as lid van die Protestantse nasionale Church of Scotland.
In 1568 het Maria uit die tronk ontsnap en dit het gelei tot ’n kort tydperk van geweld. Die Graaf van Moray het Maria se troepe in die Slag van Langside verslaan. Sy het noodgedwonge na Engeland gevlug waar sy deur Elizabeth in hegtenis geneem en uiteindelik tereggestel is.
Hoewel die regentskap amptelik in 1578 geëindig het, het Jakobus nie volle beheer oor die regering gekry voor 1581 nie. In Augustus 1582 het die verskeie grawe Jakobus na Ruthven-kasteel gelok, hom gevange geneem en gedwing om ’n verklaring af te lê waarin hy verklaar dat hy nie gevange gehou word of teen sy wil aangehou word nie en dat niemand hom moet kom help nie. Hy is in Junie 1583 vrygelaat en het daarna toenemend beheer oor sy koninkryk oorgeneem.
In 1586 het Jakobus die Verdrag van Berwick met Engeland gesluit. Dit en die teregstelling van sy ma in 1587 het dit vir hom moontlik help maak om later die Engelse troon te bestyg.
In sy jeug is Jakobus geprys vir sy kuisheid omdat hy min belangstelling in vroue getoon het. Hy het die geselskap van mans verkies, maar ’n huwelik was nodig om sy bewind te versterk. Die keuse het geval op die 14-jarige Anna van Denemarke, jongste dogter van die Protestantse Frederick II. Hulle is op 23 November in die huwelik bevestig. Jakobus was versot op Anna en het haar met geduld en deernis behandel. Tussen 1593 en 1595 is hy egter romanties verbind met Anne Murray, later lady Glamis, wat hy poëties aangespreek het as "my minnares en my liefde".
Die koninklike egpaar het drie kinders gehad wat oorleef het: Hendrik Frederick, Prins van Wallis, wat in 1612 op 18-jarige ouderdom oorlede is; Elizabeth, later koningin van Boheme; en Karel, die toekomstige koning Karel I van Engeland. Anna is in Maart 1619 oorlede.
Van 1601 af, tydens die laaste jare van Elizabeth I se lewe, het sekere Engelse politici in die geheim met Jakobus gekorrespondeer om ’n gladde troonoorname te verseker. Elizabeth is op 24 Maart oorlede en Jakobus het koning van Engeland geword. Hy is op 25 Julie gekroon.
Op die vooraand van die opening van die tweede sessie van Jakobus se eerste parlement op 5 November 1605 is ’n soldaat met die naam Guy Fawkes in die kelder van die parlementsgebou ontdek – naby ’n hoop hout en nie ver van 36 vate buskruit nie waarmee hy beplan het om die gebou die volgende dag op te blaas. Die samesweerders en hul leier is op 27 Januarie 1606 gevonnis en vier dae later gehang. Die opspraakwekkende verydeling van die Katolieke Buskruitkomplot, soos dit gou bekend geraak het, word nog in Engeland op 5 November gevier.
Ná die Buskruitkomplot het Jakobus sy onderdrukking van Katolieke verskerp en het hy streng maatreëls ingestel om hulle te beheer. In Mei 1606 het die parlement ’n wet goedgekeur wat van elke burger verwag het om ’n eed van getrouheid af te lê waarin die Pous se mag bo dié van die koning onder meer ontken is. Jakabus was verdraagsaam teenoor Katolieke wat die eed afgelê het, en selfs teenoor kripto-Katolieke (Katolieke wat hulle in die openbaar met protestantisme vereenselwig het, maar innerlik Katolieke gebly het.
Dwarsdeur sy lewe het Jakobus liefdesverhoudings met manlike howelinge gehad, veral met Esmé Stewart, 6de lord d'Aubigny (later 1ste Hertog van Lennox); Robert Carr, 1ste Graaf van Somerset, en George Villiers, 1ste Hertog van Buckingham. Hy was in sy tyd berug vir sy manlike minnaars en daar is van hom gesê: Elizabeth was King, now James is Queen. Nie alle moderne historici stem egter saam dat hy definitief homo- of biseksueel was nie.(Bucholz, 2004)
Tydens die laaste jaar van sy lewe was die koning dikwels ernstig siek en hy het Londen al hoe minder besoek. In Maart 1625 het hy ’n beroerte gehad en hy is op 27 Maart in Theobalds House in Hertfordshire oorlede. Daar is diep gerou oor sy dood. Hy was tot aan die einde baie gewild, veral danksy ononderbroke vrede en lae belasting tydens die Jakobeaanse Tydperk.
Die "King James Version" van die Engelse Bybel is aan hom opgedra. Dit is in 1611 gepubliseer danksy die Hampton Court-konferensie wat hy byeengeroep het om probleme op te los met die vertalings wat destyds gebruik is. Dié vertaling van die Bybel word vandag nog wyd gebruik.
This article uses material from the Wikipedia Afrikaans article Jakobus I van Engeland, which is released under the Creative Commons Attribution-ShareAlike 3.0 license ("CC BY-SA 3.0"); additional terms may apply (view authors). Inhoud is onderhewig aan CC BY-SA 4.0, tensy anders vermeld. Images, videos and audio are available under their respective licenses.
®Wikipedia is a registered trademark of the Wiki Foundation, Inc. Wiki Afrikaans (DUHOCTRUNGQUOC.VN) is an independent company and has no affiliation with Wiki Foundation.