Feodor Ingvar Kamprad ( luister (hulp·inligting); * 30 Maart 1926 in Pjätteryd; † 27 Januarie 2018 in Liatorp) was 'n Sweedse sakemagnaat en stigter van Ikea, 'n multinasionale kleinhandelonderneming wat hom op bekostigbare slaan-dit-self-aan-mekaar-meubels toespits.
Die meubelsaak se naam is 'n akroniem wat vir die stigter en sy geboorteplaas Elmtaryd in Agunnaryd, provinsie Småland, Swede staan.
Ingvar Kamprad | |
---|---|
Ingvar Kamprad in 2010 | |
Gebore | Feodor Ingvar Kamprad 30 Maart 1926 Pjätteryd, Swede |
Sterf | 27 Januarie 2018 (op 91) Älmhult, Swede |
Nasionaliteit | Swede |
Beroep | Sakemagnaat |
Bekend vir | die stigting van Ikea |
Eggenoot | Kerstin Wadling (1950–1960; geskei) Margaretha Stennert (1963–2011; haar dood) |
Kinders | 4 |
Ouer(s) | Frans Feodor Kamprad en Berta Linnéa Matilda Nilsson |
Kamprad het Ikea in 1943 op die ouderdom van 17 op die plaas van sy ouers gestig. In die beginjare kon klante items soos vuurhoutjies, bolpuntpenne, nylonkouse of horlosies, vanaf 1947 ook meubels per pos bestel (die eerste katalogus, wat in 1951 verskyn is, is nog deur melkmans versprei). Kamprad het 'n groot deurbraak gemaak met die idee om meubels te bemark wat – om vragkoste te bespaar – as slaan-dit-self-aan-mekaar-pakkette aangebied is. Eers twintig jaar later is die eerste Ikea-meubelwinkel in Älmhult geopen. Die meubelsaak het vinnig gegroei. In 1974 is die eerste meubelwinkel in München, Beiere, geopen. Duitsland het vervolgens tot Ikea se belangrikste buitelandse mark ontwikkel.
Ingvar Kamprad, wie se fortuin in Januarie 2018 deur die Amerikaanse sakenuusdiens Bloomberg op VSA-$58,7 miljard beraam is (Kamprad is agste gelys in Bloomberg se lys van die wêreld se 500 welvarendste miljardêrs), het 'n reputasie vir spaarsaamheid opgebou – 'n eienskap wat tradisioneel aan Smålanders toegeskryf word. So het hy 'n 15 jaar oue Volvo-motor bestuur en steeds tweede klas gereis. Hierdie spaarsaamheid het egter ook daartoe gelei dat hy die hoë Sweedse belastingtariewe probeer vermy het. So het hy tussen 1976 en 2014 in Epalinges naby Lausanne in die Switserse kanton Vaud gebly en eers ná die afsterwe van sy vrou na Swede teruggekeer. In 1982 is Ikea omgeskep tot 'n stigting wat sy setel in Nederland het. Verskeie dogtermaatskappye is in Luxemburg en Liechtenstein geregistreer. Reeds sedert 1988 was Kamprad nie meer regstreeks by die bestuur van Ikea betrokke nie, maar het hom beperk tot die rol van raadgewer.
Ingvar Kamprad, wat deur sy onderneming as "een van die vernaamste entrepreneurs van die 20ste eeu" beskryf is, is volgens 'n Ikea-persmededeling op 27 Januarie 2018 ná 'n kort siekte op die ouderdom van 91 in vrede in sy huis in die Sweedse provinsie Småland ontslape.
This article uses material from the Wikipedia Afrikaans article Ingvar Kamprad, which is released under the Creative Commons Attribution-ShareAlike 3.0 license ("CC BY-SA 3.0"); additional terms may apply (view authors). Inhoud is onderhewig aan CC BY-SA 4.0, tensy anders vermeld. Images, videos and audio are available under their respective licenses.
®Wikipedia is a registered trademark of the Wiki Foundation, Inc. Wiki Afrikaans (DUHOCTRUNGQUOC.VN) is an independent company and has no affiliation with Wiki Foundation.