Hendrik Bernardus Thom (13 Desember 1905 – 4 November 1983) was 'n bekroonde Afrikaanse skrywer en historikus.
Hy het 'n belangrike rol gespeel in die kultuurlewe van die Afrikanervolk, en was die skrywer van 'n aantal belangrike historiese boeke.
Hy dien op die Argiefkommissie en tree op as voorsitter vanaf 1950 tot 1955. Hy was 'n lid van die Historiese Monumentekommissie, (later Raad vir Nasionale Gedenkwaardighede), 1948–1954; Van Riebeeck-Vereniging; Stigting Simon van der Stel; Stellenbosch Museum en voorsitter van sy Raad van Trustees, 1962–1968.
Vir agttien jaar lank was hy voorsitter van die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) en was 'n gesogte spreker. Hy dien ook as administrateur van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT). Van 1952 tot 1960 was hy voorsitter van die Afrikaner-Broederbond.
H.B. Thom is op 13 Desember 1905 op Jamestown in die Kaapkolonie gebore, en het in Burgersdorp grootgeword. Omdat hy die vyfde kleinseun van sy oupa en naamgenoot was met die voorname Hendrik Bernardus, het sy ouers besluit om hom op sy bynaam Quintus ("Vyfde") te noem om hom van sy neefs te onderskei; hy was sy hele lewe lank as Quintie Thom bekend.
Hy matrikuleer aan die Burgersdorp Hoërskool en studeer aan die Universiteit van Stellenbosch (BA Geskiedenis en Afrikaans-Nederlands, cum laude, 1926 en MA Geskiedenis, cum laude, 1928). Hy sit sy studies in geskiedenis voort in Duitsland aan die Friedrich Wilhelms Universität in Berlyn (1928–1929), by die Sorbonne in Parys (1930) en in Amsterdam, waar hy navorsing doen vir sy doktorale tesis, wat hy voltooi na sy terugkeer na Stellenbosch. Die titel van sy doktorale tesis (Ph.D., 1930) was: Die geskiedenis van die skaapboerdery in Suid-Afrika.
Gedurende die volgende jaar word hy aangestel as Lektor in Geskiedenis aan die Universiteit van Stellenbosch, en bevorder tot Senior Lektor in 1935. In 1937 word hy aangestel as professor van geskiedenis by dieselfde inrigting.
Van 1954 was H.B. Thom die Rektor van die Universiteit Stellenbosch, tot sy aftrede in 1969. In 1983 is hy verkies tot Kanselier van die Universiteit, maar hy is oorlede aan die einde van dieselfde jaar nadat hy vir slegs nege maande as Kanselier gedien het. Die H.B. Thom-teater van die Universiteit is na hom vernoem.
H.B. Thom het tennis, hengel en fotografie as tydverdrywe beoefen, en is in 1934 getroud met Maria du Toit, bekend as Ria; die huwelik was kinderloos.
Hy is op 4 November 1983 oorlede.
HB Thom ontvang erelidmaatskap van die volgende organisasies:
This article uses material from the Wikipedia Afrikaans article Hendrik Bernardus Thom, which is released under the Creative Commons Attribution-ShareAlike 3.0 license ("CC BY-SA 3.0"); additional terms may apply (view authors). Inhoud is onderhewig aan CC BY-SA 4.0, tensy anders vermeld. Images, videos and audio are available under their respective licenses.
®Wikipedia is a registered trademark of the Wiki Foundation, Inc. Wiki Afrikaans (DUHOCTRUNGQUOC.VN) is an independent company and has no affiliation with Wiki Foundation.