'n Habitat beskryf die plek waar diere en plante lewe.
Verskillende tipes diere en plante kan dieselfde habitat deel. In so 'n geval word dit 'n biotoop genoem. 'n Habitat kan ook 'n ekostelsel of 'n bioom genoem word. Ekostelsels ontstaan wanneer verskeie lewende en nie-lewende dinge in 'n habitat saamwerk. 'n Habitat is ook bekend as 'n woonplek.
Dit maak sin dat ’n bepaalde samestelling van diere en plante in dieselfde habitat leef. Sekere voedsel- en omgewingsfaktore lok ’n kombinasie van insekte, voëls en ander diere na ’n gedeelde gebied. Die samestelling begin dus met ’n aanbod van sekere plante en -kombinasies, plantvreters (soos bokke, hase en ander herbivore) wat daarvan leef en uiteindelik dalk self die slagoffers van roofdiere (karnivore) kan word.
Plante en diere het sekere voorkeure vir ’n habitat waarin hulle kan leef en gedy.
Die poolgebiede, met hul unieke samestelling van lewe, sien daar heeltemal anders uit as die woude van Suid-Amerika. Die seelewe (plante en diere) in verskeie oseane verskil aansienlik van die plante, visse en ander diere (byvoorbeeld krokodille en bewers) in ’n varswaterhabitat.
Verskeie voorbeelde van habitatvoorkeure en gepaardgaande optrede kan genoem word:
Dit is bekend dat bye hul omgewing deeglik verken en aan ander verslag doen oor waar stuifmeel gevind kan word. Hulle doen ’n stertswaaiende dans wat in ’n figuur van ’n agt by die nes uitgevoer word: Die rigting waarin hulle hul stert waai, dui op die rigting van die stuifmeelbron. Die spoed waarmee die danser sy passies uitvoer, gee ’n aanduiding van hoe ver die voedsel is.
Dit is verstaanbaar dat die oppervlakte waarop diere in verskillende habitatte leef baie kan verskil. So oorleef die hiëna in sowat 1 000 vierkante kilometer in die droë Kalahari, maar het slegs 150 vierkante kilometer in die Krugerwildtuin nodig. ’n Tier kan in ’n gebied van 130 vierkante kilometer bly maar die padda in ’n enkele poel.
Bobbejane kan enigiets tussen 2 km en 14 km per dag trek om kos en water te soek indien nie genoeg naby hul blyplek beskikbaar is nie. Hulle doen dit uitsluitlik in die dag, wanneer dit lig genoeg is en hulle verlaat nooit hul habitat ná sononder nie.
Dit val op hoe vasbeslote groepe diere – en selfs individue van dieselfde spesie – hul blyplek kan verdedig. Dié territoriale (gebieds-) gedrag lei meestal tot konfrontasies en selfs gevegte om indringers te verdryf.
Territoriale gedrag is vir die meeste diere ’n doeltreffende wapen om ongewenstes te verdryf. Diere het respek vir gebiedsgrense en voel baie onseker weg van hul eie gebied.
Mense vernietig meermale diere se natuurlike habitat deur besoedeling, ontbossing, brande, stedelike ontwikkeling, jag en ander optrede. Daarom is daar individue en bewaringsgroepe wat hulle vir die bewaring van dierehabitatte en die aktiewe bestuur van natuurlewe beywer.
Programme om Suid-Afrika se soogdiere en ander spesies te bewaar, is nou verbind met habitatbewaring. Die bewaring van ’n spesie of groep spesies is eers suksesvol as hul habitat ook doeltreffend bewaar word.
This article uses material from the Wikipedia Afrikaans article Habitat, which is released under the Creative Commons Attribution-ShareAlike 3.0 license ("CC BY-SA 3.0"); additional terms may apply (view authors). Inhoud is onderhewig aan CC BY-SA 4.0, tensy anders vermeld. Images, videos and audio are available under their respective licenses.
®Wikipedia is a registered trademark of the Wiki Foundation, Inc. Wiki Afrikaans (DUHOCTRUNGQUOC.VN) is an independent company and has no affiliation with Wiki Foundation.