Guido Pieter Theodorus Josephus Gezelle (Brugge, 1 Mei 1830 - 27 November 1899) was 'n Vlaamse Rooms-Katolieke priester, liriese digter, hekeldigter, taalkundige en vertaler.
Hy is bekend om sy fynsinnige gedigte oor die natuur, sy beeldende taalgebruik en as virtuoos taalkunstenaar. O 't ruischen van het ranke riet en Het Schrijverke uit die digbundel Vlaamsche Dichtoefeningen (1858) is slegs twee van sy bekendste werke.
Guido Gezelle | |
---|---|
Gebore | 1 Mei 1830 |
Sterf | Brugge, 27 November 1899 |
Die tematiek van sy gedigte is op tipiese wyse romanties, met onderwerpe soos die natuur, vriendskap en die dood.
Gezelle is gebore as die oudste kind van Monica Devrieze (1804-1875) en Pieter Jan Gezelle (1791-1871), 'n Vlaamse tuinier in 'n vroeëre landelike buurt aan die rand van Brugge. Sy geboortehuis is in 1926 as die Gezellemuseum ingerig. Hy het die teenstrydige kenmerke van sy netjiese, welsprekende vader en sy introverte, hipersensitiewe en godvrugtige moeder besit. Guido Gezelle was die oom van die beroemde Vlaamse skrywer Stijn Streuvels (Frank Lateur).
Hy het aan die Klein-seminarie in Roeselare studeer, waar hy as 'n halfbetalende student, belas met portiersdienste en -boodskappe, die hoërgeesteswetenskapklasse bygewoon het (1846-1849) en waar hy gedroom het om 'n sendeling in Brittanje te word, welke droom nooit vervul is nie. Van 1850 tot 1854 was Gezelle terug in Brugge, waar hy sy finale voorbereiding vir die priesteramp aan die groot-seminarie ontvang het.
In 1854 is hy tot priester ingewy. Gezelle het 'n leraar aan die Klein-seminarie van Roeselare geword, waar hy vroeër studeer het. Aanvanklik het hy lesse gegee in boekhouding en natuurlike geskiedenis, maar later het hy ook taalonderwys opgeneem. In die skooljare 1857-1858 en 1858-1859 was hy hy tot sy groot genoegdoening titularis van die poësieklas. Hy het goeie verhoudinge met sy leerlinge gehad, onder andere met Eugène Van Oye, vir wie hy Dien Avond en die Rooze geskryf het. Hy het egter moeilikheid opgetel met sy eiesinnige wyse van lesgee wat nie altyd rekening gehou het met lesroosters, eksamen eise en die langsame tempo wat nodig was vir swakker leerlinge nie, so ook wat betref sy wyse van omgang met die leerlinge, met wie hy soms te goed vertroud was. Die toestand het mettertyd onhoudbaar geword en daar het 'n uiters gespanne atmosfeer ontstaan. Sowel dosente as leerlinge het gou kant gekies vir of teen Gezelle en in 1860 is hy van sy poësieklas ontneem. Kort daarna is hy oorgeplaas na Brugge, waar hy mederektor van 'n nuwe Engelse kollege geword het, welke kollege slegs vir 'n kort tyd bestaan het (1860–1861).
Gezelle se eerste digbundel was Vlaamsche Dichtoefeningen (1858). Dit was 'n ongewone en onortodokse bundel vir sy tyd, en in nie-verhewe taal geskryf, met die gevolg dat die bundel aanvanklik buite Wes-Vlaandere met verbystering begroet is. In die noorde van Nederland het lesers sy taalgebruik as te eg Vlaams beskou (en dus ietwat moeiliker verstaanbaar). Hy is ook vanaf die antiklerikale liberale kant af hewig aangeval op grond van die godsdienstig vrome karakter van vele van sy digwerk. Een van die weinige persone in Nederland wat wel aandag aan Gezelle se digkuns bestee het was die katolieke intellektueel Joseph Alberdingk Thijm, synde die vader van Lodewijk van Deyssel. Die digter het net soos Gezelle gestreef na 'n herwaardering en herlewing van die middeleeuse-christelike kuns en kultuur, so ook wat betref die argitektuur binne die neogotiek.
Na die opheffing van die Engelse-kollege het Gezelle 'n leraar geword in die wysbegeerte en is hy aangestel as vise-rektor aan die Seminarium Anglo-Belgicum (1861–1865). In 1865 is Gezelle benoem tot onderpastoor (Noord-Nederlands: kapelaan) van die Sint-Walburgakerk te Brugge. Gezelle se bundels Gedichten, Gezangen en Gebeden en Kerkhofblommen is tydens sy tyd as leraar in Brugge uitgegee.
Gezelle het gedurende die tyd ook as hekeldigter ontpop. Hy het onder die skuilnaam Spoker gefigureer met sy satirestukke op die politieke toneel. As onderpastoor en priester het hy ook sy literêre gawes ingespan om die christelike deugde by te bring. Hy het die gesinsblad Rond den Heerd opgerig waarin hy geskryf het oor heilige - en liturgiese onderwerpe, flora, fauna en outydse volksgesegdes. Die volkskrywes van die blad en toenemende finansiële moeilikhede en rompslomp het egter soveel van hom opgeëis dat hy ongesteld geraak het. Toe hy bowendien gehoor het dat daar allerlei beskuldigings en skinderverhale oor hom die rondte doen het hy uit Brugge na Kortrijk na 'n vriend gevlug.
Die deken van Kortrijk het in 1872 aan Gezelle 'n aanstelling as kapelaan in die Onze-Lieve-Vrouwekerk in (Kortrijk) gegee, waar hy tot 1889 sou bly. Die leiding van Rond den Heerd is in 1871 oorgeneem deur Adolf Duclos. Gezelle het in 1890 'n nuwe tydskrif gestig getiteld Biekorf.
Na 'n tyd het hy sy digwerk hervat. Een van die publikasies uit die tyd is die populêre bundel Zielegedichtjes. Hy het langsamerhand as digter in aansien gestyg, hoewel sy werk buite Wes-Vlaandere nog altyd weinig aandag ontvang het. In 1880 het Liederen, Eerdichten et Reliqua verskyn, te wete 'n bundel met skoonheidsgedigte, humoristiese vertellings en vertaalde gedigte.
HEETE POOTJES Een schalkaard had een bie gevaân Desember 1860 |
Gezelle het bly studeer, vernaam in literatuur. Die Vlaamse taal het hom veral naby aan die hart gelê. In Kortrijk het hy 'n nuwe blad begin getiteld Loquela en met 'n kring van getroue volgelinge het hy 'n groot versameling woorde aangelê. Na sy dood is 150 000 los papiertjies met woordverklarings gevind.
Hy het ook voortgegaan om vertaalwerk te doen, waaronder 'n bekende werk deur Longfellow genaamd The Song of Hiawatha. Ondanks sy werk as kapelaan was dit vir hom moontlik om genoegsame tyd aan sy literêre werk te bestee. Hy het geleidelik sy insinking te bowe gekom, en ook buite Wes-Vlaandere het die waardering vir sy werk begin toeneem. Hy het daarin geslaag om sy liriese poësie te hervat, waarmee sy poësie 'n tweede, meer deurleefde en volwasse bloeityd beleef het. Die gedigte uit die tydperk is in 1893 in Tijdkrans gebundel.
Daar was nog altyd kritiek betreffende sy taalgebruik gewees, maar dit het egter 'n pleitbesorger gekry in die figuur van August Vermeylen, wat Gezelle die grootmeester van de Vlaamse poëzie genoem het. Naas Alberdingk Thijm het ook Pol De Mont nou meer bekendheid aan die gedigte van Gezelle in die noordelike Nederlande verleen. Nadat die vernuwende beweging (Van Nu en Straks), wat die poësie in Vlaandere betref, asook De Nieuwe Gids in Nederland, 'n vars briesie in die literêre landskap gebring het, was daar meer algemene waardering vir die gedigte van Gezelle.
In 1896 het hy op 66-jarige leeftyd in totaal 87 gedigte geskryf, die meeste met 'n langdurige geworstel met woorde. In 1897 het die bundel Rijmsnoer om en om het jaar verskyn, waarin gedigte oor die skepping voorop staan, of beter gestel: die skeppingsorde; deur die seisoene deur middel van die opeenvolgende maande te beskryf. Ook Tijdkrans toon sy behoefte aan 'n weergawe van die ordening wat hy om hom bespeur. Beide bundels toon onder meer hoe intens Gezelle allerlei details en gebeurtenisse in die natuur kon geniet en hoe hy in woordspel dit wou vasvang wat hy met sy sintuie kon waarneem.
BONTE ABEELEN Wit als watte, en teenegader Wakker als een wekkerspel, Groen vanboven is 't en, zonder minke, Onstandvastig volgt het, gansch, Wisselbeurtig, op en neder, Wit en grauw, zoo, dóór de lucht, 12 Februarie 1897 |
Tydens die laaste paar jaar van sy lewe het Gezelle hom toenemend aan die openbare lewe onttrek. Hy het onder meer op die werk uit die 14de eeuse mistieke skrywer Jan van Ruusbroec gekonsentreer. Sy kragte het geleidelik minder geword. Die voltooiing van 'n groot vertaling van 'n teologiese werk, welke opdrag hy van die regering ontvang het, het baie van hom geëis. Hy het weer 'n aanstelling as geestelike raadgewer in 'n Engelse klooster in Brugge gekry. Hy het die pos en verhuising gedwee aanvaar (April 1899), alhoewel hy eintlik nie meer die krag daarvoor gehad het nie. 'n Kort tydjie daarna het hy ongesteld geraak. Op 27 November 1899 het hy, siek en verswak, op 69-jarige ouderdom gesterf. Sy laaste woorde is opgeteken deur sy neef, die priester Caesar Gezelle, wat teenwoordig was by sy sterfbed:
Die gedigte wat na sy dood gevind is, is in 1901 postuum gepubliseer. Hierdie bundel is Laaste verse genoem. Dit bevat onder meer gedigte oor Gezelle se persepsie van die skoonheid van die Skepping, welke aan vorm gegee word deur Gezelle se kenmerkende sensitiwiteit en visuele krag; geïnspireer deur sy diepe emosie en godsdienstige verwondering oor die skoonheid in alles wat leef wat hy as eerbetoon aan God gesien het; wie ingevolge sy innerlike oortuiging alles geskep het. Dié lewensuitkyk word egter ook uitgedruk in een van sy vroeëre gedigte, Als de ziele luistert:
Als de ziele luistert spreekt het al een taal dat leeft, 't lijzigste gefluister ook een taal en teeken heeft: blâren van de boomen kouten met malkaar gezwind, baren in de stroomen klappen luide en welgezind, wind en wee en wolken, wegelen van Gods heiligen voet, talen en vertolken 't diep gedoken Woord zoo zoet.. als de ziele luistert! 1859 |
Tot die kring van leerlinge van Guido Gezelle word gereken: Hugo Verriest, Gustaaf Verriest, Karel De Gheldere, Karel Callebert en Eugeen Van Oye.
Hierdie artikel is in sy geheel of gedeeltelik vanuit die Nederlandse Wiki vertaal. |
Wiki Commons bevat media in verband met Guido Gezelle. |
This article uses material from the Wikipedia Afrikaans article Guido Gezelle, which is released under the Creative Commons Attribution-ShareAlike 3.0 license ("CC BY-SA 3.0"); additional terms may apply (view authors). Inhoud is onderhewig aan CC BY-SA 4.0, tensy anders vermeld. Images, videos and audio are available under their respective licenses.
®Wikipedia is a registered trademark of the Wiki Foundation, Inc. Wiki Afrikaans (DUHOCTRUNGQUOC.VN) is an independent company and has no affiliation with Wiki Foundation.