Die Gereformeerde kerk Meyerspark is ’n gemeente van die Gereformeerde Kerk (GKSA) in die ooste van Pretoria.
Dit sluit, benewens die woonbuurt waaraan die naam ontleen is, ook Die Wilgers, Donkerhoek, Equestria, Boschkop, La Montagne, Lynnwoodrif, Murrayfield, Willow Glen en Silverton uitbr. 10 in.
Gereformeerde Kerk Meyerspark | ||
Sluit in | Die Wilgers Donkerhoek Equestria Boschkop La Montagne Lynnwoodrif Meyerspark Murrayfield Silverton X10 Willow Glen | |
Klassis | Oostelike Pretoria | |
Huidige predikant(e) | Dreyer Potgieter | |
Belydende lidmate | 281 | |
Dooplidmate | 21 | |
Adres | H.v. Emmarentia- en Nicolettestraat Meyerspark | |
Geskiedenis | ||
Stigtingsdatum | 1 Augustus 1971 | |
Afgestig van | Silverton | |
Eerste predikant | J.H.S. van der Walt (1971–1974) |
Die gemeente het op 1 Augustus 1971 van die Gereformeerde kerk Silverton afgestig. Destyds was dit ’n jeugdige gemeente waarvan die gemiddelde ouderdom van sy belydende lidmate in Oktober 1972 net 28 jaar was. So het daar ’n hegte band tussen ’n kerngroep lidmate ontstaan. Die lidmate het dan ook mettertyd ál ouer en die dooplidmate ál minder geword: Einde 1997 was die sieletal 1 006 van wie amper 20 persent dooplidmate was; einde 2001 was die sieletal 789, van wie die dooplidmate amper 17 persent was, maar tot einde 2014 het die sieletal afgeneem tot 443, van wie die dooplidmate net 9,5 persent was. Die lidmaattal het trouens al omstreeks 1990 op sowat duisend 'n hoogtepunt bereik en daarna algaande verminder.
Op ’n kerkraadsvergadering op 19 September 1973 is besluit om ’n kerk-en-saal-kompleks vir die gemeente op te rig. ’n Lidmaat, Renier Roos, is as argitek aangewys. Weens die resessie van destyds kon die gemeente eers nie ’n verbandlening kry nie en het hulle besluit dat die kerkraad as eienaarbouer sou optree. Aanvanklik is die koste op R135 000 (sonder professionele fooie) geraam, maar dit het eindelik amper verdubbel tot R240 000.
Die susters van die gemeente het die orrel afbetaal deur middel van koek- en kosverkopings, terwyl J.V. Juventus geld vir die preekstoel ingesamel het. Die kerkgebou is op 22 Mei 1976 plegtig in gebruik geneem. Die kompleks bestaan uit ’n kerkgebou en saal, skakel met ’n moederskamer en die kombuis. Al die vensters kyk uit op ’n binnehof wat met ’n groot glasdeur verbind word met die saal. Dr. C.H. Venter het ’n gedenkplaat in die kerkgebou se voorportaal onthul.
This article uses material from the Wikipedia Afrikaans article Gereformeerde kerk Meyerspark, which is released under the Creative Commons Attribution-ShareAlike 3.0 license ("CC BY-SA 3.0"); additional terms may apply (view authors). Inhoud is onderhewig aan CC BY-SA 4.0, tensy anders vermeld. Images, videos and audio are available under their respective licenses.
®Wikipedia is a registered trademark of the Wiki Foundation, Inc. Wiki Afrikaans (DUHOCTRUNGQUOC.VN) is an independent company and has no affiliation with Wiki Foundation.