In 1589-92 het die Italiaanse wetenskaplike Galileo Galilei (toe professor van wiskunde by die Universiteit van Pisa), volgens 'n biografie deur Galileo se leerling Vincenzo Viviani, wat hy in 1654 saamgestel en in 1717 gepubliseer het, twee sfere met verskillende massas uit die Skewe Toring van Pisa laat val om te wys dat die tyd wat hulle neem om te val, onafhanklik is van hulle massa.:19–21
Deur hierdie eksperiment, sou Galileo kwansuis ontdek het dat alle voorwerpe met dieselfde versnelling val, wat sy voorspelling waar sou bewys het, en terselfdertyd Aristoteles se teorie van swaartekrag verkeerd sou bewys, aangesien dit sê dat die spoed van 'n voorwerp wat val eweredig is aan sy massa. Teen die tyd dat die eksperiment volgens Viviani plaasgevind het, het Galileo egter nog nie die finale weergawe van sy wet van vrye val geformuleer nie. Hy het wel 'n vroeër weergawe bereik wat voorspel het dat liggame van die dieselfde materiaal wat deur dieselfde medium val, dieselfde spoed sou hê.:20 Dit staan in teenstelling met Aristoteles se leerstelling dat swaar voorwerpe vinniger as ligteres val, in direkte verhouding tot hulle gewig.:9 Alhoewel die verhaal van die eksperiment dikwels oorvertel is, is daar is geen rekord van so 'n eksperiment deur Galileo self nie, en die meeste historici aanvaar dat dit 'n gedagte-eksperiment was, wat nie eintlik plaasgevind het nie. 'n Uitsondering hierop is Drake, wat beweer dat dit, min of meer soos deur Viviani beskryf, as 'n demonstrasie vir studente gedoen is.:19–21, 414–416
Die eksperiment is wel in Delft in 16de eeuse Nederland gedoen, toe die wiskundige en fisikus Simon Stevin en Jan Cornets de Groot (die vader van Hugo de Groot) twee loodballe van die Nieuwe Kerk laat val het. Die eksperiment is beskryf in Simon Stevin se boek De Beghinselen der Weeghconst (Die Beginsels van Statiek), wat in 1586 gepubliseer is:
'Neem (soos die hooggeleerde H. IAN CORNETS DE GROOT, flukse ondersoeker van die Natuur se verborgenhede, en ek gedoen het) twee loodballe, die een tienmaal groter en swaarder as die ander, en laat hulle tesame val van 30 voet hoog, op 'n plank waarteen dit 'n merkbare geluid gee, en jy sal merk dat die ligter een nie tienmaal langer daarheen neem as die swaarder een nie, maar dat hulle tesame gelyk op die plank val, sodat hulle twee geluide een en dieselfde slag skyn te wees. Soortgelyk bevind hy dadelik dieselfde resultaat met twee ewe groot liggame in tienvoudige verhouding van gewig, daarom is Aristoteles se vermeende eweredigheid onjuis.'
Galileo het by sy hipotese bereik deur 'n bekende gedagte-eksperiment wat in sy boek Oor Beweging beskryf is. Beskou twee voorwerpe, een ligter en een swaarder, wat met 'n tou aanmekaar verbind is. Laat hierdie stelsel van voorwerpe uit 'n toring val. As ons aanvaar dat swaarder voorwerpe inderdaad vinniger as ligter voorwerpe val, sal die tou styftrek soos die ligter voorwerp die val van die swaarder voorwerp vertraag. Die stelsel sal dus stadiger as die swaarder voorwerp val. Maar as die stelsel as 'n geheel beskou word, is dit swaarder as die swaar voorwerp, en daarom moet dit vinniger val. Hierdie teenstrydigheid lei tot die gevolgtrekking dat die aanname verkeerd is.
This article uses material from the Wikipedia Afrikaans article Galileo se eksperiment met die Skewe Toring van Pisa, which is released under the Creative Commons Attribution-ShareAlike 3.0 license ("CC BY-SA 3.0"); additional terms may apply (view authors). Inhoud is onderhewig aan CC BY-SA 4.0, tensy anders vermeld. Images, videos and audio are available under their respective licenses.
®Wikipedia is a registered trademark of the Wiki Foundation, Inc. Wiki Afrikaans (DUHOCTRUNGQUOC.VN) is an independent company and has no affiliation with Wiki Foundation.