Gert Jacobus Joubert (*24 Januarie 1907, Kestell – †6 Maart 1966, Ermelo) was ’n Afrikaanse skrywer.
Gert Jacobus Joubert is op 24 Januarie 1907 op Kestell in die distrik Harrismith in die Vrystaat gebore. In 1911 verhuis hy na Transvaal wanneer sy vader op die plaas Onverwacht naby Ermelo kom boer. Sy skoolopleiding begin op ’n plaasskool op Roodewal en van standerd 3 tot standerd 9 gaan hy skool op Ermelo. Daarna gaan boer hy op die familieplaas Onverwacht.
As fynbesnaarde mens is hy in hierdie tyd in ’n geloofstryd binne homself betrokke en sy ouers stuur hom na ’n sielsiekegestig waar hy vir vyf maande lank bly. Vir die res van sy lewe is hy ’n boer.
Hy is in 1934 met ’n onderwyseres getroud, maar sy vrou is na elf maande oorlede. In 1938 is hy weer getroud, hierdie keer met Isabella Cornelia Pienaar, wat in 1953 oorlede is. Uit sy tweede huwelik is twee seuns gebore. Hierna trou hy weer, hierdie keer met Miemie. Hy is op 6 Maart 1966 op die plaas Onverwacht naby Ermelo selfdood deur homself te skiet.
Sy eerste verhale skryf hy as jongman van ongeveer agtien in die tent waar hy by die skape bly in die wintersveld. Sy eerste gepubliseerde verhaal verskyn in Die Landbouweekblad en daarna volg kortverhale en sketse in Die Huisgenoot.
Sy debuut is met die kortverhaalbundel Steiltes. Hierin bundel hy kortverhale sonder enige literêre pretensie, waarin hy die ervaringe van plaasmense opteken. Hy ken die emosies en stryd van die boer en alles word in die verhale geskets: Die trots wanneer daar ’n mooi oes is, die wurggreep van die depressie, die ewige stryd van die boer teen die meedoënlose natuur wat soms die vrug van maandelange arbeid in enkele oomblikke verniel. Ook die vreugde van die arbeid, die werklus van die boer en die humoristiese gebeurtenisse op die plaas kom aan die beurt. Die verhale mis diepte en is dikwels so los van bou dat dit lyk na ’n opeenstapeling van anekdotes, maar die skrywer maak daarvoor op deur sy reguit en gemaklike skryfstyl en opregte meelewing in sy onderwerp.
Hy volg hierdie bundel op met die soortgelyke Penwortels, waar hy veral in die verhaal Jaap kan nie verstaan nie ook deurdring tot die diepere leed van die mens.
Sy kortverhaal Velbroek… die Swarte word in die versamelbundel Kortpad opgeneem en hierdie kortverhaal word ook in Engels vertaal as Velbroek, the black horse en opgeneem in Afrikaans short stories.
Hansie gooi horing vas word opgeneem in F.V. Lategan se Kernbeeld van die Afrikaanse kortverhaal en Hoogmoed in die versamelbundel Voorsmaak.
Sy vernaamste werk is die grootliks outobiografiese novelle Oupa Landman se viool. Dit vertel die verhaal van Johan Landman (waar die van groot simboliese waarde het) wat as matriekseun verkies om boer te word. Hy beleef die wonders van die grond en natuur, maar leer ook swaarkry ken, veral wanneer sy meisie onverwags oorlede is. Deur sy oupa se viool te bespeel vind hy heling en hierdeur suggereer hy ook die kontinuïteit deur verskillende geslagte heen. Hierdie boek word telkens op skool en universiteit voorgeskryf en verower in 1964 die Akademie se Scheepersprys vir Jeugliteratuur.
Werke wat uit sy pen verskyn sluit in:
Jaar | Publikasies |
---|---|
1938 | Steiltes |
1945 | Penwortels |
1951 | Oupa Landman se viool |
This article uses material from the Wikipedia Afrikaans article G.J. Joubert, which is released under the Creative Commons Attribution-ShareAlike 3.0 license ("CC BY-SA 3.0"); additional terms may apply (view authors). Inhoud is onderhewig aan CC BY-SA 4.0, tensy anders vermeld. Images, videos and audio are available under their respective licenses.
®Wikipedia is a registered trademark of the Wiki Foundation, Inc. Wiki Afrikaans (DUHOCTRUNGQUOC.VN) is an independent company and has no affiliation with Wiki Foundation.