Günther Krupkat (* 5 Julie 1905 in Berlyn; † 14 April 1990 in Berlyn) was een van die leidende skrywers van wetenskapsfiksie in die vroeë jare van die Duitse Demokratiese Republiek.
Sy bekendste werke sluit romans soos Als die Götter starben, Die große Grenze, Die Unsichtbaren en Nabou in.
Günther Krupkat | |
---|---|
Gebore | 5 Julie 1905 |
Sterf | 14 April 1990 (op 84) Berlyn, Duitsland |
Nasionaliteit | Duitsland |
Beroep | Skrywer |
Bekend vir | Als die Götter starben Die große Grenze Die Unsichtbaren Nabou |
Günther Krupkat is in 1905 in Berlyn gebore. Om finansiële redes is hy gedwing om sy ingenieurstudies te staak. Voor die Tweede Wêreldoorlog was hy onder meer as fabrieksarbeider, sakereisiger, elektriese monteur, advertensieskrywer, in 'n laboratorium en in die pers- en radiobedryf werksaam.
Op ouderdom 19 het hy sy eerste utopiese roman Od geskryf - 'n werk wat deur Aleksei Nikolajewitsj Tolstoi se Aelita geïnspireer is. Uitgewers was egter nie bereid om Krupkat se roman te publiseer nie - veral vanweë die "linkse" kritiek op die samelewing wat daarin geoefen is. Die roman is sodoende nooit uitgegee nie. Daarenten het die skrywer met sy kortverhale meer sukses behaal - die eerste werke is nog voor 1945 vrygestel. Vanweë sy betrokkenheid by die weerstand teen die Nasionaalsosialistiese bewind in Duitsland het Günther Krupkat teen die einde van die Tweede Wêreldoorlog na Tsjeggoslowakye gevlug.
Ná die oorlog het Krupkat hom in Oos-Berlyn gevestig. Hy het daar sy ingenieurstudies voltooi en daarna as hoofredakteur gewerk. Vanaf 1955 was hy as vryskutter werksaam. Naas sy roman oor die RMS Titanic, Das Schiff der Verlorenen, het hy veral voortgegaan om wetenskapsfksie te skryf wat steeds weer herdruk is. In dy DDR-skrywersvereniging Schriftstellerverband der DDR het hy tussen 1972 en 1978 as voorsitter van die Werkkring Utopiese Literatuur (Arbeitskreis Utopische Literatur) gefungeer wat danksy sy inisiatief in die lewe geroep is. Hy is later opgevolg deur Heiner Rank.
Krupkat se bekendste en mees gelese werke was twee romans waarin die groot invloed sigbaar word wat (pseudo-wetenskaplike) prehistoriese astronoutiek op die DDR-wetenskapsfiksie uitgeoefen het. Als die Götter starben handel oor die mislukte poging van mense in die vroeë geskiedenis om met ruimtewesens in kontak te kom. Nabou - 'n roman waarin die leser na die binneste dele van die aarde geneem word - handel oor 'n hoogs ontwikkelde robot wat deur ruimtewesens op die aarde agtergelaat is. Nabou word ook as die eerste literêre hoogpunt binne die Oos-Duitse wetenskapsfiksie beskou - die Oostenrykse publisis en kritikus Franz Rottensteiner het na dié werk in 1979 as "een van die beste voorbeelde van wetenskapsfiksie in die DDR" verwys.
This article uses material from the Wikipedia Afrikaans article Günther Krupkat, which is released under the Creative Commons Attribution-ShareAlike 3.0 license ("CC BY-SA 3.0"); additional terms may apply (view authors). Inhoud is onderhewig aan CC BY-SA 4.0, tensy anders vermeld. Images, videos and audio are available under their respective licenses.
®Wikipedia is a registered trademark of the Wiki Foundation, Inc. Wiki Afrikaans (DUHOCTRUNGQUOC.VN) is an independent company and has no affiliation with Wiki Foundation.