Gerhard Korsten (Schiedam, 6 Desember 1927 - Wildernis, 29 September 1999) was 'n legendariese Suid-Afrikaanse sanger wat 'n groot stempel op die Afrikaanse kultuur afgedruk het.
Vandag nog word sy lied Liefling by rugbywedstryde in Bloemfontein en Pretoria gespeel.
Gé Korsten | |
---|---|
Gé Korsten as lt. Pinkerton in Madama Butterfly in 1960. | |
Agtergrondinligting | |
Gebore | 6 Desember 1927 Schiedam, Nederland |
Sterf | 29 September 1999 (op 71) Wildernis, Suid-Afrika |
Genres | Opera en ligte Afrikaanse liedies |
Beroep(e) | Sanger, akteur |
Jare aktief | 1952 - 1999 |
Korsten is op 6 Desember 1927 in Schiedam, Nederland gebore. Hy was die jongste van agt kinders en het in 1936 as negejarige seun saam met sy ouers na Suid-Afrika geëmigreer. Die immigrantegesin het hulle in Johannesburg-Noord gevestig waar Gé gematrikuleer het aan die latere Highlands North Boys' High School, wat destyds gemeng was. Hy het sy loopbaan as operasanger begin en was reeds op 20-jarige ouderdom lid van die SAUK se kore. Hy het in 1952 stemopleiding ontvang aan die South African College of Music in Kaapstad onder leiding van Adelheid Armhold.
Op 5 Januarie 1952 trou hy in die NG kerk Johannesburg-Noord met Elna Burger, dogter van ds. Attie Burger, wat ook die huweliksbevestiging waarneem. Gé se pa, Kor Korsten, was die bouaannemer van die kerkgebou by Oaklandslaan 17, Norwood, waarvan Elna se pa die hoeksteen op 17 Junie 1950 gelê het en wat op 18 Februarie 1951 ingewy is. Sy is op Maandag 26 Maart 2012 in George oorlede in die ouderdom van 81 jaar.
In 1955 het hy na Pretoria verhuis waar hy verdere opleiding onder leiding van Albrecht Lewald ontvang het. Hy was in dieselfde jaar ook een van die stigterslede van die Pretoria-operagroep. Sy operadebuut maak hy in 1956 as Canio in Pagliacci. In 1962 word 'n oorsese studiebeurs aan hom toegeken waarna hy in 1963 in Europa onder Judith Hellwig verdere opleiding ontvang en ook die geleentheid kry om in operas in Europese stede soos Wene en München op te tree. Hy het vir 'n tyd lank ook in Pretoria 'n elektriese kontrakonderneming besit, maar het sy belang in die onderneming in 1970 verkoop om sy tyd voltyds aan musiek te wy. In 1976 het hy die Nederburgprys vir Opera ontvang vir sy hoofrol in Andrea Chénier.
Korsten het in 1965 sy betrokkenheid by ligte musiek begin toe hy sy eerste langspeelplaat Gé Korsten Sing uit die Hart uitgereik het. In 1966 het hy nog vier langspeelplate uitgereik. Sy rolprentdebuut maak hy in 1967 in Kruger Miljoene. Later daardie jaar vertolk hy ook die hoofrol in die baie gewilde fliek Hoor My Lied, ook met Min Shaw, Helga van Wyk en Lindie Roux. Die klankbaan vir hierdie fliek het aan Korsten 'n goue plaat besorg. Drie ander rolprente het gevolg:
Korsten het nege goue plate agter sy naam gehad. Hy het tydens sy loopbaan, wat oor 40 jaar gestrek het, 58 albums opgeneem. Hy het ses Sarie-toekennings ontvang en in 1979 'n Artestoekenning vir sy TV-program Gé Sing. Hy het ook die rol van Walt Vorster in die sepie Egoli gespeel. In 1985 is hy as hoofdirekteur van Kruik in Kaapstad aangestel en het die pos tot in 1989 beklee. Hy het vermoedelik kanker gehad en het in 1999 sy eie lewe geneem. Die Korsten-egpaar het vyf kinders gehad, onder wie die dirigent Gérard Korsten. Ten tyde van Elna se dood in 2012 was daar 13 kleinkinders.
Korsten is op 3 Mei 2008 tydens die 14de Suid-Afrikaanse Musiektoekennings vereer vir 'n leeftyd se bydrae tot plaaslike musiek.
Korsten se albums:
Rolprente waarin Korsten gespeel het:
This article uses material from the Wikipedia Afrikaans article Gé Korsten, which is released under the Creative Commons Attribution-ShareAlike 3.0 license ("CC BY-SA 3.0"); additional terms may apply (view authors). Inhoud is onderhewig aan CC BY-SA 4.0, tensy anders vermeld. Images, videos and audio are available under their respective licenses.
®Wikipedia is a registered trademark of the Wiki Foundation, Inc. Wiki Afrikaans (DUHOCTRUNGQUOC.VN) is an independent company and has no affiliation with Wiki Foundation.