Fondsrekeningkunde word tipies toegepas wanneer 'n verskaffer van finansiering sekere beperkinge plaas op die gebruik van die fondse deur die ontvanger daarvan.
Ten einde te verseker dat die fondse aangewend word in ooreenstemming met die vereistes van die skenker of die befondser (soms die Wet), word fondsrekeningkunde dikwels gebruik. Dit beklemtoon verantwoording eerder as winsgewendheid, en word dus in die algemeen gebruik deur organisasies sonder winsoogmerk (soos universiteite), regeringsinstellings, klubs, ens. Hiervolgens bestaan 'n fonds uit 'n self-balanserende versameling rekeninge en word elke fonds as onbeperk, tydelik beperk of permanent beperk, na gelang van die vereistes, aangedui.
Die term fondsrekeningkunde word soms ook gebruik vir die rekeningkunde wat vir beleggingsportefeuljes, soos aandele, kommoditeite en / of vaste eiendom gehou in 'n beleggingsfonds soos 'n onderlinge fonds of verskansingsfonds, gebruik word. Dit is egter nie dieselfde as die fondsrekeningkunde wat vir organisasies sonder winsoogmerk of regeringsinstellings gebruik word nie.
Organisasies sonder winsoogmerk en staatsinstellings wat die fondserekeningkunde-stelsel gebruik, se finansiële verslae het hoofsaaklik ten doel om aan die gebruikers daarvan aan te dui hoe die organisasie die fondse wat van die verskaffer daarvan ontvang is, aangewend het, eerder as om aan te dui hoeveel wins gemaak is. Anders as winsgerigte ondernemings, wat 'n enkele stel selfbalanserende rekenings (of grootboek ) gebruik, kan organisasies sonder winsoogmerk meer as een algemene grootboek (of fonds) hê, afhangende van die finansiële verslagdoeningsvereistes van die verskillende fondse. Die Rekenmeester van so 'n organisasie moet in staat wees om verslae te lewer wat die finansiële stand, inkomste en uitgawes vir elk van die individuele fondse uiteensit, asook verslae wat die organisasie se finansiële aktiwiteite in al sy fondse opsom.
In fondsrekeningkunde word tussen twee primêre fondsklasse onderskei, naamlik fondse wat 'n onbeperkte gebruik het, d.w.s wat vir enige wettige doeleindes deur die organisasie gebruik kan word en dié wat slegs ooreenkomstig voorskrifte gebruik kan word en dus beperk word in die gebruik daarvan. Voorbeelde van beperkings is wetlike vereistes waar die fondse slegs wetlik vir 'n spesifieke doel gebruik kan word, of 'n beperking wat deur die skenker of verskaffer opgelê word. Hierdie beperkings van die skenker / verskaffer word gewoonlik skriftelik gekommunikeer, byvoorbeeld by wyse van die voorwaardes van 'n ooreenkoms, staatsubsidie, testament of geskenk.
Fondsrekeningkunde stel 'n organisasie dus in staat om sy finansiële bronne te skei tussen dié wat onmiddellik beskikbaar is vir voortgesette bedrywighede en dié wat vir 'n spesifieke doel aangewend moet word. Dit bied ook 'n ouditspoor wat aandui dat alle fondse vir hul beoogde doel aangewend is en dus van beperkings vrygestel is.
Suid-Afrikaanse universiteite wat op staatsondersteuning aangewese is, kan as voorbeeld gebruik word. Die universiteit ontvang 'n subsidie van die staat om vir sy algemene bedryf voorsiening te maak (en wat hy dus kan aanwend om bedryfsuitgawes te finansier), 'n subsidie wat slegs vir navorsingsdoeleindes gebruik mag word, en 'n verdere subsidie wat slegs vir kapitaalbesteding aangewend mag word. Die universiteit moet met gereelde tussenposes oor elkeen van hierdie aktiwiteite aan die staat verslag doen, elk onderhewig aan spesifieke verslagdoeningsvereistes soos dit deur die staat neergelê is. Die universiteit kan ook skenkings van private instansies ontvang, onderhewig aan spesifieke vereistes, byvoorbeeld dat die fondse slegs vir kankernavorsing gebruik mag word. Dan moet daar gereeld aan die skenkers verslag gedoen word oor die aanwending van die fondse. Die universiteit moet dus 'n stelsel hê om oor elk van hierdie aktiwiteite afsonderlik en ooreenkomstig die verslagdoeningsvereistes van die spesifieke aktiwiteit verslag te doen. Dit word gedoen deur afsonderlike fondse op te stel, elk met 'n eie stel rekeninge om die verslagdoening te fasiliteer.
Die fondse van organisasies sonder winsoogmerk word in twee primêre kategorieë verdeel, naamlik onbeperkte en beperkte fondse. Die aantal fondse in elke kategorie kan mettertyd verander en word bepaal deur die beperkings en verslagdoeningsvereistes wat deur die fondsverskaffers gestel word.
Onbeperkte fondse is, soos hul naam aandui, onbeperk, en organisasies het dus die reg om dit vir enige wettige doel (natuurlik in ooreenstemming met die organisasie se doelwitte) te gebruik. Daar is gewoonlik net een só 'n fonds nodig, dikwels die Algemene Fonds genoem. Groter organisasies gebruik egter soms verskeie Algemene Fondse om hulle te help met die verantwoording van hulle hulpbronne. Onbeperkte fondse kan die volgende insluit:
Beperkte fondse kan die volgende insluit:
Net soos winsgewende organisasies, stel organisasies sonder winsoogmerk en die staat ook finansiële state op. Dit word opgestel in ooreenstemming met die verslagdoeningsvereistes in die land waar hulle gevestig is, of as hulle groot genoeg is, kan dit volgens International Financial Reporting Standards Internasionale opgestel word. As die organisasie klein is, kan sy finansiële state op 'n kontantgrondslag opgestel word, maar groter maatskappye gebruik gewoonlik die toevallingsgrondslag vir hulle finansiële state.
Groter organisasies sonder winsoogmerk in Suid-Afrika, soos universiteite, stel hulle finansiële state ooreenkomstig IFRS op. IFRS is 'n rekeningkundige raamwerk wat wyd in die wêreld gebruik word en stel voorskrifte daar waaraan finansiële state moet voldoen.
Die finansiële state van organisasies sonder winsoogmerk en die staat bevat onder meer dieselfde vier standaard state as dié van winsgewende organisasies:
This article uses material from the Wikipedia Afrikaans article Fondsrekeningkunde, which is released under the Creative Commons Attribution-ShareAlike 3.0 license ("CC BY-SA 3.0"); additional terms may apply (view authors). Inhoud is onderhewig aan CC BY-SA 4.0, tensy anders vermeld. Images, videos and audio are available under their respective licenses.
®Wikipedia is a registered trademark of the Wiki Foundation, Inc. Wiki Afrikaans (DUHOCTRUNGQUOC.VN) is an independent company and has no affiliation with Wiki Foundation.