'n Drie (of doel) is een van die belangrikste maniere waarop punte in rugby aangeteken word.
'n Drie word aangeteken wanneer 'n speler die bal in sy teenstanders se doelgebied druk (teen die grond met sy hande of ander liggaamsdeel).
Indien 'n televisieskeidsregter (TMO of videoskeidsregter) aangestel is, mag die skeidsregter op die veld hom vir advies vra voordat 'n drie toegestaan of afgewys word. Onder huidige protokol mag die TMO slegs adviseer of die bal werklik gedruk is op die grond in die doelarea; of die baldraer of die bal die kantlyn geraak het in die proses van die driedruk; en of enige ontoelaatbare spel gepleeg is deur enige speler tydens die proses.
'n Drie in rugby is tans vyf punte werd. Dit was egter nie altyd so nie en was op 'n stadium drie punte werd. Die puntewaarde is egter oor die jare aangepas om die waarde van 'n drie relatief tot dié van 'n strafskop of skepskop te verhoog. Dit is hoofsaaklik gedoen om die spel aanskoulik te hou vir toeskouers deur meer klem op die druk van drieë te plaas.
As 'n rugbyskeidsregter glo dat 'n definitiewe drie verhoed is deur die doelbewuste oortreding deur die teenstanders om dit te verhoed, kan hy 'n strafdrie toeken aan die aanvallende span. Strafdrieë word altyd onder die pale toegeken ongeag van waar die oortreding op die veld plaasgevind word. Die standaard wat deur die skeidsregter toegepas word is dat 'n drie "waarskynlik" gedruk sou word. Die skeidsregter hoef nie seker te wees dat 'n drie wel gedruk sou word nie.
Wanneer 'n drie gedruk word, kry die span wat gedruk het die geleentheid om die drie te verdoel (of te vervyf onder die ou reëls, vanweë die feit dat 'n verdoelde drie voorheen 5 punte werd was) om die puntewaarde van die drie om te skakel in meer punte. Die skop word geneem van enige punt op die veld wat in lyn is met die plek waar die drie gedruk is, wat parallel is met die kantlyn. Die skopper kan dus die bal so plaas dat hy 'n wyer aansig van die pale het om sy skop te vergemaklik. 'n Doelskop is suksesvol wanneer dit bo-oor die dwarslat gaan en tussen die regop pale (of dié se verlenging boontoe) deur is. Die skop kan in die vorm van 'n skepskop of 'n stelskop wees. Die meeste skoppers verkies egter die stelskop omdat dit meer akkuraat geag word as 'n skepskop. In sewesrugby (wat met dieselfde reëls as die 15-man weergawe gespeel word) mag 'n doelskop egter net 'n skepskop wees, om tyd te bespaar.
In 'n poging om die skop makliker te maak sal die aanvallende span probeer om die drie so naby aan die pale as moontlik te druk. 'n Doelskop is twee punte werd wat beteken dat 'n suksesvolle skop die waarde van 'n drie opskuif van vyf na sewe punte.
In vroeë vorme van rugby was die doel van die spel om doele aan te teken. 'n Drie is toegeken vir wanneer die bal in die opponente se doelgebied gedruk is; dit was egter geen punte werd nie maar dit het die span wat die drie gedruk het in staat gestel om die bal oor die pale te probeer skop sonder dat die opponente inmeng. Indien hierdie skop suksesvol was sou die drie omgeskakel word in 'n doel. (Die Engelse terme stel dit so: the opposition can "try" to kick at goal; if the kick is successfull the "try" would be "converted" in a "goal".)
Moderne rugby verkies egter om eerder drieë te druk omdat die drie meer punte tel. Daar word steeds 'n verdoelskop toegeken wanneer 'n drie gedruk is, maar dit word deur spanne gesien as ekstra punte. Hierdie skoppunte kan egter die verskil tussen wen en verloor beteken, dus poog spankeurders om een betroubare stelskopper in hul span in te sluit.
This article uses material from the Wikipedia Afrikaans article Drie (sport), which is released under the Creative Commons Attribution-ShareAlike 3.0 license ("CC BY-SA 3.0"); additional terms may apply (view authors). Inhoud is onderhewig aan CC BY-SA 4.0, tensy anders vermeld. Images, videos and audio are available under their respective licenses.
®Wikipedia is a registered trademark of the Wiki Foundation, Inc. Wiki Afrikaans (DUHOCTRUNGQUOC.VN) is an independent company and has no affiliation with Wiki Foundation.