Dionusos of Dionusus (Grieks: Διόνυσος of Διώνυσος) is in die Griekse mitologie die god van wyn, teater, druiwe, rituele waansin en religieuse ekstase.
Hy het later volgens sommige bronne een van die twaalf Olimpiese gode geword nadat Hestia haar plek afgestaan het.
Dionusos | |
---|---|
Griekse god | |
’n Antieke Romeinse kopie van ’n Griekse beeld van Dionusos (2de eeu), Louvre | |
Naam | Dionusos |
God van | Wyn, teater, druiwe, rituele waansin en religieuse ekstase |
Simbool | Bacchusstaf, druiwe, luiperdvel |
Ouers | Zeus en Semele |
Romeinse eweknie | Bacchus, Liber |
Die geografiese oorsprong van sy kultus is onbekend, maar alle mites dui op ’n "buitelandse" oorsprong; hy is die tipiese god van die goddelike openbaring, "die god wat kom". Die naam "Dionusos" is ook van onsekere afkoms; die "nisos"-deel is moontlik nie-Grieks, maar die "dio"-deel word nog altyd met Zeus (genitief Dios) verbind. Sy eweknie in die Romeinse mitologie is Bacchus.
Dionusos is ook bekend as "Die Bevryder", die god wat ’n mens van sy normale self bevry – deur wyn, waansin en ekstase. Sy doel was om ’n einde te bring aan kommer.
Dionusos is soms die seun van Zeus en Semele, ander kere van Zeus en Persefone. Hy word beskryf as "verwyf" of "man-vrouagtig". Sy gevolg is die tiasos genoem en het bestaan uit hoofsaaklik menades en saters.
Dionusos het ’n vreemde geboorte gehad, wat dit moeilik maak om hom in die Olimpiese panteon in te pas. Sy ma was ’n sterflike vrou, Semele, dogter van Kadmus van Thebe, en sy pa was Zeus, koning van die gode. Zeus se jaloerse vrou, Hera, het van die verhouding uitgevind terwyl Semele swanger was. Sy het haar as ’n ou vrou vermom en met Semele vriende gemaak. Dié het aan haar erken dat Zeus die pa is. Hera het gemaak of sy haar nie glo nie en so saadjies van twyfel in haar gemoed geplant. Semele eis toe dat Zeus homself in al sy glorie as koning van die gode openbaar. Zeus smeek haar om dit nie te doen nie, maar sy volhard.
Eindelik stem hy in en kom na haar toe omring deur weerligstrale. Gewone sterflinge kon egter nie na ’n onvermomde god kyk sonder om te sterf nie, en Semele sterf in die vlamme. Zeus red die fetus van Dionusos deur hom in sy dy vas te werk en ’n paar maande later word Dionusos op Berg Pramnos op die eiland Ikarië gebore. So word Dionusos deur twee "moeders" (Semele en Zeus) gedra voor sy geboorte, vandaar die bynaam dimētōr (van twee moeders) wat verband hou met die feit dat hy twee keer gebore is.
In die Kretiese weergawe van dieselfde storie is Dionusos die seun van Zeus en Persefone, die koningin van die onderwêreld. ’n Jaloerse Hera probeer weer die kind doodmaak, dié keer deur Titane te stuur om Dionusos te verskeur. Zeus verdryf die Titane met sy weerligstrale, maar teen dié tyd het hulle reeds alles geëet behalwe die kind se hart, wat onderskeidelik deur óf Atena óf Rea óf Demeter gered word. Zeus gebruik die hart om Semele weer swanger te maak, en dus is hy weer eens "twee keer gebore". Volgens ander weergawes gee Zeus vir Semele die hart om te eet om haar so te bevrug.
Ná die baba se tweede geboorte gee Zeus hom vir Hermes om te versorg. Volgens een weergawe neem Hermes die seun na koning Atamas en sy vrou, Ino, Dionusos se tante. Hermes vra die egpaar om die seun as ’n meisie groot te maak om hom te bewaar teen Hera se wraak. ’n Ander weergawe is dat Dionusos na die reënnimfe van Nisa geneem is om hom groot te maak.
As volwasse man het Dionusos wynbou ontdek, maar Hera het waansin oor hom gebring en hom ’n wandelaar laat word wat die wêreld deurkruis het. In Frigië het die godin Kubele, by die Grieke beter bekend as Rea, hom gesond gemaak en vir hom haar religieuse rite geleer. Daarna het hy deur Asië gereis en die mense van wynbou geleer.
As jong man was Dionusos besonder aantreklik. Terwyl hy eenkeer langs die see gesit het, vermom as ’n sterflike, het matrose hom gesien en gedink hy is ’n prins. Hulle het hom probeer ontvoer om ’n losprys te eis, maar geen tou kon hom vashou nie. Dionusos het in ’n leeu verander en ’n beer op die skip losgelaat wat almal doodgemaak het wat hy gesien het. Dié wat oorboord gespring het, is in dolfyne verander. Die enigste oorlewende was die stuurman, Akoites, wat die god herken en die ander matrose van die begin af probeer keer het.
Van omstreeks 200 v.C. is die Bacchusfeeste in Rome gehou. Dit het van die Grieke in die suide van Italië oorgewaai, of van Etrurië. Dis op 16 en 17 Maart in die geheim gehou en net vroue het dit bygewoon. Later is mans ook toegelaat en die vierings het vyf keer per maand plaasgevind. Dié feeste is beskou as ’n bedreiging van die politieke status quo, nes ander sulke feeste waar allerhande misdade en politieke sameswerings sou plaasvind. Dit het in 186 v.C. gelei tot die Senaat se dekreet bekend as die Senatus consultum de Bacchanalibus – op ’n bronsplaat geskryf en in 1640 in Kalabrië ontdek, nou in Wene – waarvolgens die feeste regdeur Italië verbied is behalwe in spesiale gevalle waar vooraf by die Senaat toestemming gevra moes word. Ondanks groot strawwe is die feeste nog lank in Italië gehou.
This article uses material from the Wikipedia Afrikaans article Dionusos, which is released under the Creative Commons Attribution-ShareAlike 3.0 license ("CC BY-SA 3.0"); additional terms may apply (view authors). Inhoud is onderhewig aan CC BY-SA 4.0, tensy anders vermeld. Images, videos and audio are available under their respective licenses.
®Wikipedia is a registered trademark of the Wiki Foundation, Inc. Wiki Afrikaans (DUHOCTRUNGQUOC.VN) is an independent company and has no affiliation with Wiki Foundation.