Professor Danie Goosen is 'n Suid-Afrikaanse filosoof, voormalige voorsitter van die Groep van 63 (2000–2004) en sedert 2004 die voorsitter van die FAK.
Goosen is in 1953 in Johannesburg gebore. Hy het sy skoolopleiding in Johannesburg en Pretoria gekry en het aan die universiteite van Pretoria en Suid-Afrika ekonomie, teologie en filosofie gestudeer. Hy behaal sy doktorsgraad oor die filosofie van verwondering by Nietzsche 1989.
Vanaf 1985 is hy 'n lektor in die departement Godsdienswetenskap aan die Universiteit van Suid-Afrika en word later senior lektor en mede-professor (1997) in dié departement. Vanaf 2008 is hy professor in godsdienswetenskap aan Unisa.
Goosen was vir 'n lang ruk 'n verdediger van 'n filosofiese posisie (dekonstruksie) waarin figure soos Nietzsche, Martin Heidegger en Jacques Derrida 'n groot rol gespeel het. Vanaf 2000 swaai sy denke weg van Heidegger en Derrida en meer in die rigting van die verdediging van die politieke teologie van 'n "ander moderne" waarin die begrip gemeenskap 'n sterk rol speel. In sy boek Nihilisme (2007) beskryf hy die werklikheid (syn) in deelnemende en dramatologiese terme. Die belangrike figure wat nou sy denke inspireer sluit die volgende in: Plato, Aristoteles, Thomas van Aquino, Hegel, Heidegger, Gadamer, Taylor en MacIntyre.
Professor Danie Goosen is met inwerkingtreding van Februarie 2019 aangestel as akademiese hoof by die privaat Afrikaanse verskaffer van tersiêre onderrig, Akademia.
This article uses material from the Wikipedia Afrikaans article Danie Goosen, which is released under the Creative Commons Attribution-ShareAlike 3.0 license ("CC BY-SA 3.0"); additional terms may apply (view authors). Inhoud is onderhewig aan CC BY-SA 4.0, tensy anders vermeld. Images, videos and audio are available under their respective licenses.
®Wikipedia is a registered trademark of the Wiki Foundation, Inc. Wiki Afrikaans (DUHOCTRUNGQUOC.VN) is an independent company and has no affiliation with Wiki Foundation.