Die swartkraai of koringlandkraai is 'n wydverspreide en lokaal algemene standvoël in Suider- en oossentraal-Afrika.
Hulle is omnivore wat minder afhanklik van aas is as die witborskraai. Hulle vlieg met diep vlerkslae, en gee lang treë as hulle stap. Hulle het 'n groot verskeidenheid roepe waarvan sommige gereeld geuiter word.
Swartkraai | |
---|---|
Afgeneem in die Kgalagadi-vredespark en roep opgeneem in KwaZulu-Natal | |
Wetenskaplike klassifikasie | |
Domein: | |
Koninkryk: | |
Filum: | |
Klas: | |
Orde: | |
Familie: | |
Genus: | |
Spesie: | C. capensis |
Binomiale naam | |
Corvus capensis Lichtenstein, 1823 | |
verspreiding |
Daar is twee aparte bevolkings, naamlik een in Suider-Afrika (Suid-Afrika, Namibië, Botswana en Zimbabwe tot in suidelike Angola), en ‘n tweede in die Horing van Afrika, Ethiopië en Suid-Soedan. Hulle is ook baie lokaal in ekwatoriale bergstreke teenwoordig.
Albei genders het ‘n glansende swart veredos, en die iris is donkerbruin. Die snawel en pote is ‘n swarterige horingkleur. Die snawel is lank, dun en effens afgeboë. Jongvoëls het ‘n dowwer veredos waarby die blouswart glans ontbreek, en hul kop en bors is bruin getint. Die algehele lengte is sowat 50 cm (20 duim), die stert 7,7 duim (20 cm) en die vlerk 13,8 duim (35 cm). Afmetings van voëls van die noordelike bevolking is effens kleiner as dié van die suidelikes.
Hulle word as enkelinge, in pare of familiegroepe aangetref. Jongvoëls kan groot swerms van tot 600 individue vorm, wat ook kommunaal in bome of op kragdrade oornag. Hulle word dikwels op landerye gesien en is benewens teenwoordig in grasveld en oop omgewings, in dorre woestynstreke of in alpynse vleilande. Hulle sit dikwels op telefoonpale waarop hulle ook by geleentheid nesmaak. Hulle is in kleiner getalle aanwesig as die witborskraai, en kom oorwegend in droër gebiede voor.
Die roep is 'n hoë "kraa", of ‘n diep "kaa!-kaa!", en die alarmroep is borrelend. Ander roepe bestaan uit ‘n opeenvolging van dissonante kwaak- en gorrelklanke, waarvan ‘n verbasende verskeidenheid geuiter word. Wanneer hulle roep word die nek krom gehou, en die kopvere opgepof. Die pronkvlug, waartydens die vlerke vinnig gevladder word, gaan weereens met 'n gorrel-roep gepaard.
Die nes wat uit takkies bestaan, word in boomtakke, op ‘n rotslys of op 'n telefoonpaal geplaas. Die legsel bestaan uit 3 tot 5 eiers wat rosig getint en rooi gespikkel is. Die eiergrootte is 2,25 duim (5,7 cm) by 1,20 duim (3,0 cm). Eierinkubasie duur 18 tot 19 dae, en die kuikenperiode sowat 36 tot 39 dae, waarna die jongvoëls vir 'n paar maande van die ouers afhanklik bly.
Ander name vir die spesie sluit in Kapkrähe (Duits), Cape rook, Cape crow of black crow (Engels), Kaapse roek (Nederlands), Ekorova (Kwangali), Segogobane (Sepedi), chiKungubaya (Shona), leKhoa, leKhǒaba of moKhǒabane (Sotho), Gunguva of Qugwana (Tsonga), leHukubu (Tswana), uNomyayi of iDakatye (Xhosa) en i(n)Gwababane (Zoeloe).
This article uses material from the Wikipedia Afrikaans article Swartkraai, which is released under the Creative Commons Attribution-ShareAlike 3.0 license ("CC BY-SA 3.0"); additional terms may apply (view authors). Inhoud is onderhewig aan CC BY-SA 4.0, tensy anders vermeld. Images, videos and audio are available under their respective licenses.
®Wikipedia is a registered trademark of the Wiki Foundation, Inc. Wiki Afrikaans (DUHOCTRUNGQUOC.VN) is an independent company and has no affiliation with Wiki Foundation.