C.S.
Hierdie artikel is 'n weesbladsy. Dit is nie geskakel of in ander bladsye ingesluit nie. Help Wikipedia deur na moontlike teks te soek en 'n skakel hierheen te plaas. |
Badenhorst (née Van Zyl; 1926–2004) was 'n Afrikaanse skrywer wat hoofsaaklik bekendheid verwerf vir kinder- en jeugverhale. Sy is bekend vir tienerstories soos Wat geld nie kan koop, Twee spoke en ’n Seun en 'n kano.
Badenhorst | |
C.S Badenhorst (1960s) | |
Geboortenaam | Christina Sussanna van Zyl |
---|---|
Geboorte | 24 Mei 1926 Marico-distrik |
Sterfte | 9 September 2004 Potchefstroom |
Nasionaliteit | Suid-Afrika |
Beroep | Skrywer |
Genre | Kinder- en jeugverhale |
Bekend vir | Boeke |
Eerbewyse | J.P. van der Walt-prys Perskor se Jeugprys |
Christina Sussanna van Zyl is op 24 Mei 1926 op die plaas Bokkraal in die Marico-distrik gebore. Sy is die enigste dogter in die gesin en het twee ouer broers en ook 'n jonger een. Hier is sy tot standerd ses in 'n tweemanskooltjie, waarna sy na die koshuis van Zeerust Hoërskool is, waar sy in 1943 matrikuleer. Op skool kry sy die bynaam Kalfie by haar oudste broer, wat sy daarna vir die res van haar lewe behou. Sy studeer verder in Liggaamsopvoeding aan die Potchefstroomse Onderwyskollege, waar J.R.L. van Bruggen Afrikaans aan haar doseer, en behaal haar Onderwysdiploma.
Hierna hou sy vanaf 1947 skool in die Marico Bosveld op Nietverdiend. Aan die einde van 1948 trou sy met Frik Badenhorst, 'n studentemaat, en in 1949 verhuis hulle na die Rustenburgse Bosveld, waar hy 'n aanstelling by die plaaslike Doornfonteinskool kry. Twee dogters, Delene en Susan, word uit die huwelik gebore. Na 'n onderbreking van 'n paar jaar, waartydens die kinders gebore is en sy voltyds skryf, begin sy weer skoolhou, aanvanklik op Koedoeskop in die Thabazimbi-bosveld. Vanaf 1961 woon hulle op Potchefstroom, waar sy skoolhou en in 1975 aftree. Sy word in November 2003 ernstig siek en verloor alle spierbeheer, waarna sy op 9 September 2004 op Potchefstroom oorlede is.
Sy lewer uitsluitlik werk vir kinders en die jeug. Van kleintyd af skryf sy vir Die Jongspan en haar eerste poging word gepubliseer wanneer sy skaars nege jaar oud is. Letterlik honderde bydraes van haar word deur haar skooljare en terwyl sy onderwys gee in hierdie bladjie geplaas, onder haar eie naam en sewe skuilname. Somtyds is daar tot ses van haar bydraes in een uitgawe. In standerd nege en tien wen sy landswye opstel- en dramawedstryde. Deur die jare lewer sy ook bydraes vir Patrys, Trompie en Pronkertjie.
Sy help met die samestelling van Skone klanke en Woord en daad vir gebruik op laerskole en hoërskole en help ook met kortverhaalbundels en toneelbundels vir hierdie doeleindes. Haar eie boekies begin verskyn vanaf die vroeë vyftigerjare, hoofsaaklik vir gebruik van graad een tot standerd twee, onder andere 'n hele aantal eenlettergrepige beginnersboekies.
As samesteller is sy verantwoordelik vir verskeie bundels in die Trap der Jeug-reeks skoolleesboekies.
Dit is egter eers na die verskyning van Kruppelpootjies (1958) dat sy ernstig begin belangstel in kinderboeke en haar daarna hieraan toewy. Hierdie verhaal gaan oor 'n hondjie wat kruppel gebore is en dan vreugde bring in die lewe van 'n dogtertjie wat polio gehad het. Kruppelpootjies word in 1959 met die tweede prys in 'n landswye kinderboekwedstryd bekroon.
Uit haar kinderverhale word 'n keur gemaak (aangevul met nuwe verhale) wat in vier dele onder die titel Uit my storietrommel gepubliseer word.
Sy is veral bekend as skryfster van avontuurverhale vir die jeug, waarin daar nie veel konflik is nie, met 'n positiewe, amper idilliese, lewensuitkyk en wêreldbeeld. Die boeke is feitlik almal voorspelbaar in hulle resepmatigheid. Hierdie resepmatigheid kom in bykans alle verhale voor, met dikwels 'n liefdestema en karakters wat uitblink op sportgebied, terwyl haar natuurkennis baie van die verhale verryk.
In Speurder Proppie (1973) wil die bende nie toelaat dat Proppie by hulle aansluit nie, want hy is nog te jonk en moet homself eers bewys. Wanneer hy die polisie help om 'n gevaarlike span inbrekers vas te trek, word hy as lid van die bende aanvaar.
Wanneer die Nigrini-gesin in Beeldjie nommer 4 (1978) van Kranskop na Brakfontein verhuis, verbied Minini se pa haar om katte aan te hou. Sy ontdek vir Siamie, 'n Siamese katjie met 'n rondloper-ma en met die hulp van 'n vriend versteek sy hom. Hierdie situasie is nie volhoubaar nie, weet sy. Een of ander tyd gaan daar iets gebeur.
Wat geld nie kan koop nie (1981) is die verhaal van Nerina wat alles het, soos ryk ouers, status, talent en goeie maats, maar nogtans nie geluk in haarself het nie. Haar goeie vriendin Katryn sien dit raak en skryf 'n poppespel om te sien of dit nie 'n verskil sal maak nie.
In 1981 word Nienkie verstaan bekroon met die J.P. van der Walt-prys. Nienkie is tot sy elf jaar oud is die enigste kind. Dan word Braampie gebore en skielik is sy nie meer die middelpunt van belangstelling nie. Braampie word siek en sy siekte veroorsaak dat hulle nie meer in die Desembervakansie strand toe gaan nie. Sy voel dat sy vir Braampie haat, want hy verongeluk alles. Vir die vakansie gaan die ontevrede Nienkie dan na oom Braam en tant Ela op Bosbokrand, waar sy leer om te verstaan. Hierdie boek word saam met 'n Seun en 'n hond in 1981 by die wêreldboeke-uitstalling in Warschau uitgestal.
'n Seun en 'n kano(1983) vertel die verhaal van 'n seun wat 'n begeerlike kano kan kry as hy vir sy oom twee papegaaiduiwe vang. Sy liefde vir die natuur en vir sy eerste meisie bepaal dat hy nie voor die versoeking swig nie en die regte morele keuse maak. Hierdie boek verower in 1984 Perskor se Jeugprys.
Die prinshond (1983) is die verhaal van Kaptein se lojaliteit, wat sy nooi Elani soos goud oppas. Hy wys selfs aan haar uit wanneer ander mense haar nie goedgesind is nie, soos Linda, Elani se niggie.
Die laaste vanggat (1984) vertel van die plaasvakansie van Doret Pienaar en haar broers Fanie en Adri op hulle oupa se plaas Duikerfontein. Saam met Roelfie van Aswegen van die buurplaas kruis hulle paaie met die berugte misdadiger bekend as die Nagslagter. Asof dit nie genoeg is nie, maak oom Koot se “beroemde” spookluiperd weer sy verskyning. Voordat die drietal egter moet terugkeer stad toe, word Doret 'n geheim meegedeel. Hierdie geheim lei tot verdere avonture en 'n verrassende ontknoping.
In Eerste afspraak (1985) is die hoofkarakter Hannes Jordaan 'n meisiehater en uitblinker op akademiese en sportgebied. Ten spyte van sy suster Susan se pogings, steur hy hom nie aan die teenoorgestelde geslag nie. 'n Uitnodiging na 'n verjaarsdagpartytjie vereis egter 'n metgesel en hy wil graag vir Linda vra, maar sy stel nie eintlik in seuns belang nie en hy weet nie hoe om haar te vra nie.
In Lewenslange gevangene (1986) word Faansie en Susan saam groot en is onafskeidbaar. Faansie moet egter na 'n ander skool gaan en Susan weier eers om die feit te aanvaar. Sy leer egter 'n les wanneer sy die afvlerkduif, wat sy dae in gevangeskap deurbring, en die rooipootmannetjie dophou.
Ernst raak in Die swart motor (1987) onverwags betrokke in 'n verknorsing toe hy deur bankrowers gevange geneem word en in 'n sinkkamertjie toegesluit word. Hy wonder of Miems sal besef dat iets ernstig gebeur het en of sy sommer net sal glo dat hy nie hulle afspraak wou nakom nie.
Sy skryf ook die bundel Kindertoneelstukkies, primêr bedoel vir opvoering deur laerskoolkinders. Hierdie bundeltjie bevat die toneelstukkies Die kwaai juffrou, San se les, Die lui miertjie, Die onmoontlike tweeling, Sielkunde, Onselfsugtigheid, Elke hond kry sy dag, Huiswerk – somme, Die onbekende kwaal en Jakob en Esau. Haar kindertoneelstukke Skelm rokers en Kinkhoes word deur Gerhard J. Beukes in die versamelbundel Spele vir die Jongspan opgeneem.
s.j.
1954
1956
1958
1960
1961
1962
1965
1968
1969
1970
1972
1973
1976
1977
1978
1979
1980
1981
1983
1984
1985
1986
1987
Samesteller en redakteur
This article uses material from the Wikipedia Afrikaans article Christina Susanna van Zyl, which is released under the Creative Commons Attribution-ShareAlike 3.0 license ("CC BY-SA 3.0"); additional terms may apply (view authors). Inhoud is onderhewig aan CC BY-SA 4.0, tensy anders vermeld. Images, videos and audio are available under their respective licenses.
®Wikipedia is a registered trademark of the Wiki Foundation, Inc. Wiki Afrikaans (DUHOCTRUNGQUOC.VN) is an independent company and has no affiliation with Wiki Foundation.