Chobe Nasionale Park is die eerste nasionale park van Botswana, en ook die mees biologies uiteenlopende.
Dit is in die noorde van Botswana en is die land se derde grootste park, na Sentraal Kalahari Wildreservaat en die Kgalagadi-vredespark, en beskik oor van die grootste wildkonsentrasies in die hele Afrika.
Chobe Nasionale Park | |
---|---|
Land | Botswana |
Provinsie | Chobedistrik |
Naaste dorp | Kasane |
| |
Koördinate: 18°40′0″S 24°30′0″O / 18.66667°S 24.50000°O 24°30′0″O / 18.66667°S 24.50000°O | |
Oppervlak | 11 700 km2 |
Openingsjaar | 1967 |
Hierdie park is bekend vir die groot leeubevolking wat op olifante jag maak, meestal kalwers, maar ook jong volwassenes.
Die oorspronklike menslike inwoners van hierdie gebied was die San-Boesmans (ook bekend as die Basarwa-mense in Botswana). Hulle was nomadiese jagter-versamelaars wat voortdurend van plek tot plek beweeg het om voedselbronne te vind, naamlik vrugte, water en wilde diere. 'n Mens kan steeds San-tekeninge in die rotsagtige heuwels van die park vind.
Aan die begin van die 20ste eeu was die streek wat Botswana sou word, nog in verskillende grondbesitstelsels verdeel. Destyds was 'n groot deel van die park se gebied as Britse kroonland geklassifiseer. Die idee van 'n nasionale park om die uiteenlopende natuurlewe te beskerm en toerisme te bevorder, vat eers in 1931 pos. Die volgende jaar is 24 000 vk kilometer rondom die Chobedistrik amptelik tot nie-jaggebied verklaar; hierdie gebied is twee jaar later uitgebrei tot 31 600 vk km.
In 1943 het swaar tsetsevliegbesmettings in die hele streek voorgekom, wat die totstandkoming van die nasionale park vertraag het. Teen 1953 het die projek weer die regering se aandag gekry: 21 000 vk kilometer is voorgestel om 'n wildreservaat te word. Chobe Game Reserve is amptelik in 1960 gestig, hoewel met 'n kleiner oppervlak as wat aanvanklik gehoop is. In 1967 is die reservaat tot nasionale park verklaar.
Die park kan in vier gebiede verdeel word, wat elk ooreenstem met 'n spesifieke ekostelsel:
Die park is alom bekend vir sy groot olifantbevolking, wat na raming 50 000 mag oorskry. Die olifante wat hier aangetref word, is Kalahari-olifante, die grootste van alle bekende olifantpopulasies. Hulle word gekenmerk deur taamlike brose ivoor en kort slagtande, miskien as gevolg van kalsiumtekorte in die grond. Skade wat deur die groot aantal olifante veroorsaak word, is in sommige gebiede volop. In werklikheid is die konsentrasie in Chobe so hoog dat uitdun al oorweeg is, maar dit blyk omstrede te wees en is tot dusver verwerp deur die parkbestuur. In die droë seisoen vertoef hierdie olifante in die Choberivier en die Linyantirivier-gebiede. In die reënseisoen trek hulle 200 kilometer na die suidoostelike deel van die park. Hul verspreidingsgebied strek egter tot buite die park en hulle beweeg ook na Noordwes-Zimbabwe.
Padtoestande in die Chobe Nasionale Park hang baie af van die seisoen en reënval; 'n mens het 'n 4x4-voertuig nodig om in die park rond te ry. Dik sand word 'n probleem aan die Choberivierfront gedurende die droë maande, veral as die temperatuur styg. Gedurende die nat seisoen word die paaie naby die rivier modderig, en besoekers loop die risiko om vas te val.
This article uses material from the Wikipedia Afrikaans article Chobe Nasionale Park, which is released under the Creative Commons Attribution-ShareAlike 3.0 license ("CC BY-SA 3.0"); additional terms may apply (view authors). Inhoud is onderhewig aan CC BY-SA 4.0, tensy anders vermeld. Images, videos and audio are available under their respective licenses.
®Wikipedia is a registered trademark of the Wiki Foundation, Inc. Wiki Afrikaans (DUHOCTRUNGQUOC.VN) is an independent company and has no affiliation with Wiki Foundation.