Lucius Cassius Dio Cocceianus (Δίων ὁ Κάσσιος, ca.
155 n.C. of 163/164 tot ná 229 n.C.), onder meer bekend as Cassius Dio, Dio Cassius, of Dio (Dione. lib) was 'n Romeinse konsul en erkenne historikus wat in Grieks geskryf het. Dio het 'n geskiedenis van antieke Rome in 80 bande gepubliseer, beginnend by die legendariese landing van Aineias in Italië, tot die gevolglike grondlegging van Rome (753 v.C.), die stigting van die Republiek (509 v.C.), en die vestiging van die Ryk (31 v.C.), tot en met 229 n.C.; 'n tydsbestek van om en by 1 400 jaar. Van die 80 boeke, wat oor 22 jaar opgestel is, oorleef baie in die moderne era intakt of as fragmente, wat moderne geleerdes van 'n omvattende perspektief op Romeinse geskiedenis verskaf.
Dio Cassius | |
Geboortenaam | Lucius Cassius Dio Cocceianus |
---|---|
Gebore | ca. 155 n.C. of 163/164 Nikea (?) |
Oorlede | ná 229 Rome |
Nasionaliteit | Romeinse Ryk |
Vakgebied | Geskiedenis |
Bekend vir | Historia Romana |
Cassius Dio was die seun van Cassius Apronianus, 'n Romeinse senator. Hy is gebore en opgevoed in Nikaia in Bithynië. Volgens Bisantynse oorlewering was Dio se moeder die dogter of suster van die Griekse redenaar en filosoof Dion Chrysostomos; hierdie verwantskap is bestrede. Sy praenomen word meestal beskou as Lucius, maar 'n Macedoniese inskripsie wat in 1970 gepubliseer is, dui dit aan as Cl., vermoedelik Claudius. Alhoewel 'n Romeinse burger, was hy van Griekse afkoms, en het in Grieks geskryf. Dio het altoos 'n liefde vir sy Griekse tuisdorp Nikaia gekoester, wat hy 'my tuiste' genoem het. Daarteenoor is sy villa in Italië beskryf as 'my residensie in Italië'.
Dio het die grootste deel van sy lewe in die publieke diens deurgebring. Hy was 'n senator onder Commodus en goewerneur van Smirna na die dood van Septimius Severus, en later, om en by 205 n.C., vervangingskonsul. Hy was ook prokonsul in Africa en Pannonië. Severus Alexander het hom hoog aangeslaan, en hom weer as konsul aangestel, alhoewel sy krasse geaardheid die Praetoriaanse wagte geaffronteer het, wat sy lewe geëis het. Na sy tweede konsulskap, het hy op gevorderde leeftyd na sy land van herkoms teruggekeer, waar hy oorlede is.
Hy was die vader van Cassius Dio, wat in 291 n.C. konsul was.
Dio het 'n Romeinse Geskiedenis (Historia Romana), in 80 boekdele gepubliseer, na 22 jaar van navorsing en werksaamheid. Dit behandel Romeinse geskiedenis oor 'n ongeveer 1 400 jaar tydgreep, beginnend by die landing van die legendariese Aineias in Italië (c. 1200 v.C.), tot en met die daaropvolgende mities-historiese grondlegging van Rome (753 v.C.), wat opgevolg word met historiese gebeure tot en met 229 n.C.. Sy werk is een van slegs drie Romeinse skrifbronne wat verslag lewer oor die Keltiese opstand van 60 tot 61 n.C. in Brittanje, gelei deur hul koningin Boudicca. Vir die tydperk tot die 1ste eeu v.C., lewer Dio net opsommend verslag van gebeure; ná daardie periode, word sy verslae meer uitvoerig; en vanaf Commodus se bewindstermyn, word hy besonder sorgvuldig in sy oorlewering van die gebeure wat voor sy eie oë plaasvind.
Vandag oorleef fragmente van die eerste 36 boekdele, insluitend aansienlike dele van die 35ste boek (omtrent die oorlog van Lucullus teen Mithridates VI van Pontos) en die 36ste (oor die oorlog teen die seerowers en die veldtog van Pompeius teen die koning van Pontos). Die boeke wat volg, tot en met die 54ste, is byna almal volledig: hulle behandel die tydvak van 65 v.C. tot 12 v.C., oftewel van die oostelike kampanje van Pompeius en die dood van Mithridates, tot die dood van Marcus Vipsanius Agrippa. By die 55ste boek ontbreek 'n aansienlike porsie. Die 56ste tot die 60ste, insluitend, wat die tydvak van 9 n.C. to 54 n.C. behandel, is volledig, en bevat die gebeure van die neerlaag van Varus in Germanië tot die dood van Claudius. Van die volgende 20 boeke in die reeks, oorleef daar slegs fragmente en die skrapse samevatting van Johannes Xiphilinos, 'n monnik van die 11de eeu. Die 80ste of laaste boek behandel die tydvak van 222 n.C. tot 229 n.C. (die bewind van Alexander Severus). Die opgawe van Xiphilinos, soos tans ekstant, begin by die 35ste boek, en word by die einde van die 80ste boek afgehandel. Dit is 'n besonder onbetrokke verhandeling wat deur Bisantynse keiser Michael VII Parapinakes gelas is.
Die fragmente van die eerste 36 boeke, soos tans versamel, bestaan uit vier soorte:
Dio het Thukydides in sy skryfstyl probeer nadoen, maar het tekortgeskiet in sy samestelling sowel as aanbieding van die materiaal, en ook wat die billikheid van sy sienswyse en die noukeurigheid van sy beredenering betref. Sy styl is oorwegend duidelik, waar geen opsigtelike tekskorrupsie teenwoordig is nie, alhoewel sy prosa vol Latinismes is. Sy werkywer is onbetwyfelbaar, en danksy sy persoonlike omstandighede het hy oor geleenthede beskik om òf 'n eerstehandse getuie te wees òf te beskik oor direkte kontak met die sleutelfigure by baie van die belangrike Ryksgebeure in sy eie leeftyd.
Wiki Commons bevat media in verband met Cassius Dio. |
This article uses material from the Wikipedia Afrikaans article Dio Cassius, which is released under the Creative Commons Attribution-ShareAlike 3.0 license ("CC BY-SA 3.0"); additional terms may apply (view authors). Inhoud is onderhewig aan CC BY-SA 4.0, tensy anders vermeld. Images, videos and audio are available under their respective licenses.
®Wikipedia is a registered trademark of the Wiki Foundation, Inc. Wiki Afrikaans (DUHOCTRUNGQUOC.VN) is an independent company and has no affiliation with Wiki Foundation.