Bucchero (Italiaans, oorspronklik afgelei van die Portugese term pucaro welriekende kleiaarde) is 'n soort swart of donkergrys keramiek met 'n kenmerkende glinsterende oppervlak wat vanaf die middel van die 7de eeu v.C.
Die belangrikste vervaardigingsentra was Chiusi en Volterra.
Die Italiaanse term bucchero is afgelei van die Portugese terme bucare en pucaro wat na die swartgrys keramiek van pre-Kolumbiaanse Suid-Amerikaanse beskawings verwys het. Die Italianers het die term in die laat 19de eeu ontleen om na donker breekgoed te verwys wat uit Portugal ingevoer is. Die woord is geleidelik as sinoniem vir "swartgrys" gebruik, en in die moderne argeologie is na die tipiese swart keramiek uit Etrurië as bucchero verwys.
Bucchero-keramiek is merendeels as drinkgerei en tafelware vervaardig. Kos is in bucchero-breekware bedien en daarnaas ook gestoor. Argeologiese vindplekke van bucchero-keramiek is grafte in Etruskiese nekropolisse of die nedersettings van lewendes, veral in Toskane en die noorde van Latium (tans Lazio), maar ook begraafplase en antieke nedersettings dwarsoor Sentraal-Italië.
Die Etruskers het hul kosbare keramiek ook na verder afgeleë bestemmings uitgevoer. So het argeoloë ook in nedersettings en skeepswrakke in Suid-Frankryk en op vindplekke in Spanje, Noord-Afrika, Sisilië, die Egeïese See en Egipte op bucchero-keramiek afgekom.
In die vroeë periode (tussen 650 en 600 v.C.) is dunwandige keramiek met ingekerfde versierings geproduseer, die sogenaamde bucchero sottile, wat met sy vorm en kenmerkende glanslaag metaalskottels nageboots het. In die 6de eeu het die bucchero pesante gewild geraak, 'n growwer soort keramiek, wat dikwels met stempelreliëfs versier is. Daarnaas is ook gemodelleerde versiersels op die breekgoed geplaas.
Reeds sedert die 7de eeu v.C. was bucchero-keramiek een van die gewildste handelsware op die markte van die antieke Mediterreense wêreld - dit was net so elegant soos metaalware, maar goedkoper. Danksy die groot Etruskiese handelsvloot en die internasionale handelsbetrekkinge kon die Etruskiese pottebakkers maklik in die groot aanvraag van ander gebiede voorsien. Bucchero-keramiek was bo-op die lys van Etruskiese uitvoerprodukte en het veral by die Kelties-Liguriese bewoners van Suid-Gallië gewild geraak. Argeoloë het groot hoeveelhede van hierdie keramiek in die antieke nedersettings van Languedoc en Provence en in die versonke bouvalle net voor die kus van die Côte d'Azur ontdek.
Navorsers het nog steeds nie alle geheime van die bucchero-keramiek ontrafel nie. Veral die glansende swart kleur aan die binne- en buitekant van bucchero-produkte bly raaiselagtig. Aanvanklik het navorsers vermoed dat moontlik stowwe soos steenkool, as, plantvesels of metale soos byvoorbeeld mangaanerts by die kleiaarde gevoeg is.
Tans word aangeneem dat die vermindering van die suurstoftoevoer tydens die bakproses die glansende swart oppervlaktes oplewer. 'n Soortgelyke metode is deur Griekse pottebakkers al vroeër vir die beroemde Attiese vase gebruik, en die bakproses het drie fases behels:
Wiki Commons bevat media in verband met Bucchero. |
This article uses material from the Wikipedia Afrikaans article Bucchero, which is released under the Creative Commons Attribution-ShareAlike 3.0 license ("CC BY-SA 3.0"); additional terms may apply (view authors). Inhoud is onderhewig aan CC BY-SA 4.0, tensy anders vermeld. Images, videos and audio are available under their respective licenses.
®Wikipedia is a registered trademark of the Wiki Foundation, Inc. Wiki Afrikaans (DUHOCTRUNGQUOC.VN) is an independent company and has no affiliation with Wiki Foundation.