Die hadeda (Bostrychia hagedash) of hadida-ibis is 'n groot (lengte 76–89 cm) grysbruin voël met kleurryke weerkaatsings op die vlerke.
Die aanpasbare maar gebiedsgebonde voël het 'n wye verspreiding in die sub-Sahara. In suidelike Afrika is hulle tot die vogtiger noorde, ooste en suide beperk. Danksy menslike aktiwiteite het hul getalle en verspreiding tydens die 20ste eeu sterk na die binneland uitgebrei. Buite die broeityd is dit 'n luidrugtige spesie wat, met die uitsondering van die droë binneland, algemeen in stedelike sowel as plattelandse omgewings opgemerk word. Hul Latynse naam hagedash is 'n onomatopee, 'n volksnaam wat Sparrman van die plaaslike koloniste verneem toe hy die hadeda in 1775 in die omgewing van Geelbeksvlei, Mosselbaai, ontdek. Drie subspesies word erken, maar meer is al voorgestel.
Hadeda | |
---|---|
Hadeda te Mabibi in KwaZulu-Natal | |
Roepe met dagbreek | |
Wetenskaplike klassifikasie | |
Domein: | Eukaryota |
Koninkryk: | Animalia |
Filum: | Chordata |
Klas: | Aves |
Orde: | Pelecaniformes |
Familie: | Threskiornithidae |
Genus: | Bostrychia |
Spesie: | B. hagedash |
Binomiale naam | |
Bostrychia hagedash (Latham, 1790) | |
Die verspreiding van die hadeda in Suider-Afrika |
Die geslagte lyk eenders, het 'n lengte van 76 cm, en weeg omtrent 1,25 kg. Hulle is stewig gebou met kort bene en 'n korterige stert, en vertoon op 'n afstand grysbruin. Die vlerke se dekvere (d.w.s. skouervere) vertoon van naderby glansende groen en pers-pienkerige weerkaatsings, terwyl die olyfbruin rugkant ook 'n matige brons glinster het. Die nek en kop is liggrys geveerd met 'n donker oog, 'n kaal, effens vratterige swart wang en donker oorvere. 'n Wit streep loop van die mondhoek af onder die gesig en die oor deur.
Die gevoude stert is vierkantig, maar kan keilvormig sprei. In stygende vlug sluit die stert by die redelik kort en geronde vlerke aan. Hul vlerkvorm fasiliteer 'n vinnige opstyg en maneuvrering uit bosse, maar lewer 'n ongrasieuse gelykvlug met iewat onreëlmatige vlerkslae. Anders as sekere ander ibisse vlieg hulle nooit in formasie nie, en in vlug steek die pote ook nie soos by die kleiner glansibis verby die stertpunt nie.
Soos ander ibisse het hulle eweredig afgeboë bekke. Dié is sydelings afgeplat met 'n langskeepse groef van die spleetvormige neusgate af tot byna aan die snawelpunt. Die culmen, d.w.s. dorsale rif van bo-mandibel, is deels rooi by volwassenes. Onvolwassenes is valer geveerd en opvallend kleiner, met korter en meer reguit snawels. Hul bors- en nekvere is ook meer prominent en gespikkeld, eerder as geskulp soos by volwassenes.
Pare of groepe vlieg tot 3 km van hul oornagplek na voedingsgebiede, en dié is veral waar die grond vogtig en sag is. In goeie reënjare sal die oop veld hul aanlok, maar in droë jare weer kusduine en strandmere. Op sportvelde sal familiegroepe van sowat 5 voëls versamel, en op vliegvelde gemiddeld 10 individue, maar tot soveel as 80. By groot uitsondering is meer as 200 al saam opgemerk. Hulle soek kos in weiveld en besproeiingslande (lusern, klawer, ens.), vleie en oorstroomde gebiede, op die oewers van panne en damme, aan woudrande en beboste waterlopies, op seestrande en in wortelboombosse, en op die grasperke van vliegvelde, sportvelde, parke en voorstedelike tuine.
Hulle is standvoëls, maar kan na gelang van droogte of reënval rondswerf. Hulle is bestand teen koue weer en trek gevolglik nie weg vir die winter nie, maar sal dan by groter swerms aansluit, en kommunaal oornag. Hulle is afhanklik van bome vir oornag- sowel as nesmaakplek, en keer tipies na dieselde boomgroep terug. Hul vertrek en terugkeer na die oornagplek word luidrugtig aangekondig, maar sodra hulle broei, word hulle betreklik stil.
Weens hul voorspelbare terugkeer na die oornagplek word hulle maklik deur jagters voorgelê, en hul vleis is al aangeprys as baie smaaklik. Arende en swartsperwers prooi op die volwassenes, terwyl kraaie, muskeljaatkatte, apies en likkewane die eiers en kuikens buit. Hulle word soms doodgeskok op kragmaste, en word matig geparasiteer deur bosluise.
Hulle vind voedsel deur met die sensitiewe snawelpunt in gras of onder 'n sagte grondoppervlak te woel. Ook word daar in vullissakke gevroetel, op komposhope na goggas en larwes, of op renostermishope na kewers gesoek. Hul prooi is oorwegend kruipende en ondergrondse insekte (insluitend larwes en papies), wat aangevul word met ongewerweldes soos slakke, erdwurms, honderdpote en spinnekoppe, en gewerweldes soos paddas en akkedisse. In Johannesburgse tuine hou hulle die bevolking van Parktown prawns (Libanasidus vittatus) in bedwang. Hulle sal ook hondekos steel, en word deur sekere huiseienaars gevoer.
Die spesie is monogaam en hulle broei tydens die lente of vroeë tot midsomer. Pare het verskillende hofmaakrituele soos die stryk van mekaar se vere, wedersydse aanraking met die snawels en snawelgekletter met gepaardgaande kopbewegings. Anders as die glansibis, skoorsteenveër en kalkoenibis maak hierdie ibisse nie kommunaal nes nie, maar oorwegend geïsoleerd. By uitsondering is neste tog 10 meter van mekaar gevind. Voor hulle die binneland en voorstede betrek het, is hul neste tipies redelik laag (4-5 meter hoog) in boomtakke geplaas wat oor water gehang het. Daarna het hulle aangepas by veel hoër uitheemse bome weg van water, waar die neste van 20 tot 25 meter hoog geplaas kan wees. Die nes is 'n dun, onstewige platform van stokkies, wat met 'n lagie korsmos, kruide of droë gras uitgevoer word. Dit word in sowat 10 tot 14 dae deur die wyfie voltooi, met materiaal wat die mannetjie aandra.
Haar legsel van meestal drie eiers word oor sowat 25 dae deur albei ouers uitgebroei. Dit neem die kuiken meer as 'n dag om uit die eier te breek, en vir die eerste week daarop broei 'n ouer konstant oor hulle. Die eierdop is donkerbruin gespikkeld op 'n groenerige, ligbruin of vaalwit agtergrond, en word deur die ouers uit die nes gewerp sodra die kuikens uitbroei. Die kuikens het 'n vlerkklou, is aanvanklik swart met ligpienk pote, en is oortrek met bruinswart dons. Hulle oë gaan na 3 tot 4 dae oop en hulle leer gou om oor die rand van die nes te mis. Hul lyfvere verskyn eerste, gevolg deur die kop- en nekvere 'n week later. Die kuikens word uit die krop gevoer. In suidelike Afrika bereik slegs 'n klein persentasie selfstandigheid, ná die ouers vir meer as 'n maand oor hulle waak. Broeisukses in voorstede blyk baie hoër te wees as in die platteland.
Die luide ha-ha ha-di-daa word meestal in vlug geuiter. Ook 'n klaende haaaa as 'n alarmroep. By die nes laat die broeipaar 'n snawelgekletter hoor, en die jongelinge uiter 'n hurrr-hurrr-hurrr-gespin. Groepe roepende voëls gee soms wedersyds aanleiding tot 'n luide oragie.
Die spesie is in 1790 deur John Latham beskryf deur van Sparrman se spesimen en beskrywing gebruik te maak. Hy het die tipe-lokaliteit slegs aangegee as Caput B. Spei, d.w.s. Kaap de Goede Hoop. Sparrman meld in sy reisverslag van September 1775 die volgende:
Wiki Commons bevat media in verband met Hadeda. |
This article uses material from the Wikipedia Afrikaans article Hadeda, which is released under the Creative Commons Attribution-ShareAlike 3.0 license ("CC BY-SA 3.0"); additional terms may apply (view authors). Inhoud is onderhewig aan CC BY-SA 4.0, tensy anders vermeld. Images, videos and audio are available under their respective licenses.
®Wikipedia is a registered trademark of the Wiki Foundation, Inc. Wiki Afrikaans (DUHOCTRUNGQUOC.VN) is an independent company and has no affiliation with Wiki Foundation.