Die Beringsee is ’n binnesee van die Stille Oseaan.
Beringsee | |
---|---|
’n Nasa-satellietfoto van die Beringsee – Alaska is regs bo en Rusland links bo | |
Die Beringsee en die noordelike Stille Oseaan | |
Koördinate: | 58°N 178°O / 58°N 178°O 178°O / 58°N 178°O |
Ligging: | Siberië (Rusland), Alaska (Verenigde State |
Soort: | See van die Stille Oseaan |
Oppervlakte: | 2 000 000 km² (770 000 myl²) |
Invloei: | Anadirrivier, Kuskokwimrivier, Yukonrivier |
Eiland/e: | Karaginski, Kommandeur, Nunivak, Pribilof, Sint Lawrence, Sint Matthew |
Nedersettings: | Anadir |
Dit is ’n relatief vlak see.
Die see word deur die Alaska-skiereiland geskei van die Golf van Alaska. Die oppervlakte is meer as 2 000 000 km². Dit word in die ooste en noordooste deur Alaska begrens, in die weste deur Rusland se Verre Ooste en die Kamtsjatka-skiereiland, in die suide deur die Alaska-skiereiland en die Aleoete-eilande en in die verre noorde deur die Beringstraat, wat die Beringsee en die Arktiese Oseaan se Tsjoekotkasee verbind. Die see is genoem na Vitus Bering, ’n Deense navigator in Russiese diens wat in 1728 die eerste Europeër was wat dit stelselmatig verken het.
Die Beringsee-ekostelsel sluit bronne van Amerika en Rusland in, sowel as van internasionale waters. Die interaksie tussen strome, see-ys en weer maak dit ’n lewendige en produktiewe ekostelsel.
Die meeste wetenskaplikes glo die seevlak was so laag tydens die laaste glasiale tyd dat mense en diere per voet van Asië na Noord-Amerika kon migreer oor wat nou bekend is as die Beringstraat. Daar word algemeen na verwys as die Beringlandbrug, en sommige glo dit is die manier waarop die eerste mense die Amerikas binnegegaan het.
Baie bedreigde spesies walvisse kom hier voor, onder meer die blouwalvis, rorkwal, seiwalvis, bultrugwalvis, potvis en die skaarsste soort in die wêreld, die noordelike Stille Oseaan-noordkapper. Ander seesoogdiere sluit in die walrus, sterseeleeu, noordelike seebeer, witdolfyn, moordvis en ysbeer.
Die Beringsee is baie belangrik vir die seevoëls van die wêreld. Meer as 30 spesies en sowat 20 miljoen individuele voëls broei in die streek. Seevoëlspesies sluit in die kuifpapegaaiduiker, die bedreigde kortstertalbatros, brileend en klipmeeu. Baie van dié spesies is uniek aan die streek. Die Beringsee is ook die tuiste van die kuifalk, met tot ’n miljoen individue.
Daar is ook baie visspesies, minstens 419, waarvan baie belangrik is vir kommersiële vissery soos 6 spesies van die Stille Oseaan-salm, die Alaskakoolvis, rooikoningskrap, Pasifiese kabeljou, Pasifiese heilbot en sandvis.
This article uses material from the Wikipedia Afrikaans article Beringsee, which is released under the Creative Commons Attribution-ShareAlike 3.0 license ("CC BY-SA 3.0"); additional terms may apply (view authors). Inhoud is onderhewig aan CC BY-SA 4.0, tensy anders vermeld. Images, videos and audio are available under their respective licenses.
®Wikipedia is a registered trademark of the Wiki Foundation, Inc. Wiki Afrikaans (DUHOCTRUNGQUOC.VN) is an independent company and has no affiliation with Wiki Foundation.