Die Begraafplaas H-kultuur was ’n Bronstydperk-kultuur in Pandjab, Noordwes-Indië, van omstreeks 1900 v.C.
tot omstreeks 1300 v.C. Dit word verbind met beide die laat fase van die Indusvalleibeskawing en die Indo-Ariese migrasies.
Die Begraafplaas H-kultuur was in en om die Pandjab-streek in die moderne Indië en Pakistan geleë. Dit is genoem na ’n begraafplaas wat in "gebied H" by Harappa ontdek is. Oorblyfsels van die kultuur dateer van omstreeks 1900 v.C. tot omstreeks 1300 v.C.
Volgens Rafique Mughal het die kultuur omstreeks 1700 v.C. uit die noordelike deel van die Indusvalleibeskawing ontstaan. Dit was deel van die Pandjab-fase, een van drie kulturele fases wat in die Lokalisasie- of Laat Harappa-tydperk van die Indusvalleitradisie ontwikkel het. Volgens Kenoyer het die Begraafplaas H-kultuur "dalk net ’n verandering in die fokus van nedersettingsorganisasie weerspieël van dit wat die patroon was tydens die vroeëre Harappafase – en nie kulturele, diskontinuïteit, stedelike agteruitgang, invallende volke of die verlating van die terrein, wat alles al in die verlede voorgestel is, nie." Volgens Kennedy en Mallory & Adams toon die kultuur ook "duidelike biologiese ooreenkomste" met die vroeëre bevolking van Harappa.
Sommige eienskappe van die Begraafplaas H-kultuur is al verbind aan die Swatkultuur, wat beskou is as bewys van die Indo-Ariese beweging in die rigting van die Indiese subkontinent. Volgens Parpola verteenwoordig die Begraafplaas H-kultuur ’n eerste golf van Indo-Ariese migrasie van so vroeg as 1900 v.C., wat gevolg is deur ’n migrasie na Pandjab omstreeks 1700-1400 v.C. Kochhar meen die Swat IV het die Begraafplaas H-fase in Harappa help ontwikkel (2000-1800 v.C.), terwyl die Rigvediese Indo-Ariërs van Swat V later die Begraafplaas H-mense geabsorbeer het en aanleiding gegee het tot die Geverfdegryswarekultuur (tot 1400 v.C.).
Saam met die Gandhara-grafkultuur en die Okerpotkultuur word die Begraafplaas H-kultuur deur sommige geleerdes beskou as ’n faktor in die vorming van die Vediese beskawing.
This article uses material from the Wikipedia Afrikaans article Begraafplaas H-kultuur, which is released under the Creative Commons Attribution-ShareAlike 3.0 license ("CC BY-SA 3.0"); additional terms may apply (view authors). Inhoud is onderhewig aan CC BY-SA 4.0, tensy anders vermeld. Images, videos and audio are available under their respective licenses.
®Wikipedia is a registered trademark of the Wiki Foundation, Inc. Wiki Afrikaans (DUHOCTRUNGQUOC.VN) is an independent company and has no affiliation with Wiki Foundation.