Wiki Afrikaans 2023: Spesiaal:Soek
AFVietnameseEnglish

Anlen Marais

From Wikipedia, the free encyclopedia

Anlen Elisabeth Marais (gebore Jordaan)[1] is 'n Suid-Afrikaanse skrywer[2] en is op 26 September 1953 op Fort Beaufort gebore.

Lewe en werk

Sy matrikuleer aan die Hoërskool Fort Beaufort en is ook hoofmeisie daar. Haar vader is betrokke by die veiligheidspolisie en haar moeder doseer Latyn en Engels aan die Fort Hare Universiteitskollege op die dorp. Aan die Duitse klooster op die dorp neem sy musiek en Duits-klasse. Sy studeer verder aan die Universiteit van Stellenbosch en behaal die B.A.-graad met hoofvakke Afrikaans en Liggaamlike Opvoeding en in 1975 ook die B.A. Honneurs-graad. Hier is sy lid van die letterkundige laboratorium onder leiding van D.J. Opperman en sy publiseer haar eerste gedigte onder die naam Anlen Jordaan. In 1976 skryf sy in vir 'n M.A.-graad en is ook in hierdie jaar 'n rukkie D.J. Opperman se assistent. Hy word egter ernstig siek, wat veroorsaak dat sy haar studies op die lange baan skuif en Junie en Julie in Nederland as gas van die Nederlands-Zuidafrikaanse Vereniging deurbring.[3]

Na haar terugkeer behaal sy in 1977 aan die Universiteit van Port Elizabeth die Hoër Onderwysdiploma en werk daarna vanaf 1978 tot 1983 as onderwyseres in Afrikaans aan verskeie skole in die Kaap en op Uitenhage. Sy woon in 1985 die ATKV se werkskool by oor die skryf van dramas, onder leiding van Nico Luwes. In 1988 skryf sy in vir 'n graad in kuns aan die Universiteit van Suid-Afrika. Sy slaag haar eerste jaar met Beeldhou as hoofvak, maar neem slegs Kunsgeskiedenis in haar tweede jaar. Saam met Patricia Smith is sy in 1992 verantwoordelik vir 'n kinderreeks oor omgewingsbewaring, “Moeder Aarde”, wat in die Siembamba-radioprogram van Afrikaans Stereo uitgesaai word.[4] Hierdie program is so suksesvol dat sy in 1993 'n opvolgreeks van nog tien episodes skryf. In 1998 tree sy op as een van die aanbieders vir die skryf van radiodramas en dramas by die Universiteit van Port Elizabeth se skryfskool en in dieselfde jaar bied sy vir die Departement van Kuns en Kultuur 'n drama werkswinkel op Graaff-Reinet aan. In 2013 verwerf sy die B.Th.-graad aan die Universiteit van Stellenbosch[5] en daarna in 2014 die M.Th.-graad met 'n verhandeling oor “ 'n Kerkhistoriese herlees van The Genadendal Diaries (1792–1796), met as lens die vraag na die verband tussen gender, gesondheid en godsdiens”.[6] Sy is lid van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns en is ook 'n skilder wat alreeds uitgestal het. Sy is getroud met die geneesheer dr. A. Marais en vestig haar in Despatch,[7] waar haar man 'n praktyk het.[8] Hulle het 'n seun, Ernst.

Skryfwerk

Sy begin dig in standerd ses nadat sy Van Wyk Louw se “Vroegherfs” in 'n tydskrif gelees het. Op universiteit word van haar verse in die universiteitspublikasies gepubliseer. In 1984 maak sy haar debuut wanneer van haar verse in die versamelbundel “Visier[9] verskyn. Beide T.T. Cloete[10] en Daniël Hugo meen in hulle resensies van hierdie bundel[11] dat Anlen se verse die meeste uitstaan.[12] In 2020 word haar gedigte ‘badkamer’, ‘huisvrou’, ‘dagboek’ en ‘Stilword’ in Vers en vrou opgeneem. [13] In haar debuutbundel “Die wolf in die blare” tref verskeie gedigte met hulle sensitiewe beelding van die huis, die taak van die vrou en die gesinsverhoudinge tussen man en vrou en kind. Die titel van die bundel verwys na die kinderverhaal van die wolf en drie varkies en die vrese van die verhaal en kindersprokies in die algemeen word ondersoek, asook die ma se vrese en die rol wat dit speel. Hoogtepunte in die bundel is “Ballade van die huwelik” en “Selfportret op 33”, wat getuig van 'n verbondenheid met die donker kontinent Afrika.

Wanneer haar moeder op sterwe lê aan keelkanker en slegs per skrif kan kommunikeer, vorm dit die grondslag van haar bundel “Muur van berge”.[14] Die elegiese lydensgeskiedenis van ses maande word kreatief aangebied sodat dit nie 'n treurmare word nie. Die digter maak gebruik van die kommunikasie tussen haar en haar ma, met die notas waarop haar ma haar opstand, nood en ongemak uitdruk, waarop sy reageer. Hierdie tyd roep ook herinneringe op, sodat die dood teen die lewe, hede en verlede teen mekaar uitgespeel word. Die laaste krabbeling van die moeder is “muur van berge”, waar die bundel sy naam vandaan kry en wat 'n herlewingsvisioen aandui. Na die dood en begrafnis roep die digter gelukkige herinneringe terug, waardeur die lewe dan triomfeer bo die dood.[15] Treffende gedigte is “Lappop” met sy uitbeelding van die vrou in die hospitaal, “Vlerke” wat haar geleidelike losmaak van die wêreld beskryf en sommige kort gedigte wat slegs 'n enkele indruk of insig kommunikeer, soos “Ontmoeting” en “Gangaf”. Van haar gedigte word opgeneem in “Groot verseboek”, “Die Afrikaanse poësie in 'n duisend en enkele gedigte”, “Sy sien webbe roer” en ook in “Junior Keur”, 'n bloemlesing wat aan skole voorgeskryf word.

Sy skryf ook dramas en haar “Wittakker se laaste trippie” word in 1988 by die ATKV-Kampus-toneelfees deur die dramastudente van die Universiteit van die Witwatersrand opgevoer. Hierdie drama kan beskryf word as post-protesteater en teater van versoening, waarin Wittakker 'n Engelse narkotiseur is wat gereeld saam met 'n groep bruin vissers gaan visvang. Die Sinodale Kommissie van die NG Kerk in Oos-Kaapland onder leiding van dr. Japie Greeff nader haar in 1990 met die versoek om 'n passiespel te skryf en “Die passie van ons Heer” (waarvoor sy beide die teks en die lirieke skryf) word hierna meermale in Port Elizabeth onder haar regie opgevoer. Op versoek van Volkswagen Musicative skryf sy in 1992 die musiekspel “O moon of wonder and despair”, terwyl haar Kersspel “Die seuns van Jonathan” in dieselfde jaar sy eerste opvoering in Bloemfontein beleef. In 1993 ontvang sy 'n uitnodiging om haar kinderdrama “Koer-Koer” vir opvoering te neem na die Third International Women Playwrights Conference in Adelaide in Australië. Sy skryf die teks en neem die regie waar van die musiekblyspel “Noah was his name” wat in 1995 deur die Hoërskool Brandwag in Uitenhage opgevoer word. In 1995 neem sy deel aan die BBC World Service se dramawedstryd en sy word bekroon[16] as beste dramaturg in Afrika en die Midde-Ooste vir “Dear Miester Mandela”. Die drama is oorspronklik in Afrikaans geskryf en toe in Engels vertaal en die Afrikaanse weergawe, “Horiesô Madiba”,[17] word in 1997 deur KRUIK by die Klein Karoo Nasionale Kunstefees opgevoer. Hierdie drama het as gegewe 'n Engelse soldaat wat tydens die Anglo-Boereoorlog 'n kind by 'n swart werker op 'n Boereplaas het. Hierdie kind ontvang na negentig jaar 'n erfporsie van sy Engelse pa se kant van die familie. Hy kan nie lees of skryf nie en die drama is die brief wat hy aan sy vrou dikteer, opgedra aan Mandela. Op hierdie wyse word die gebeure van die afgelope honderd jaar in Suid-Afrika dan belig uit die perspektief van een van die agtergeblewenes. Ook radiodramas verskyn uit haar pen en “Die medic” word in 1999 oor Radiosondergrense uitgesaai en is een van die tien finaliste vir hierdie sender se jaarlikse hoorspelkompetisie. In 1999 word sy deur die BBC genomineer om deel te neem aan die Alexander Onassis International Competition Prize for the Composition of an Original Theatrical Play.

In 1979 skryf die Departement van Nasionale Opvoeding 'n prosawedstryd uit. Geen wenner of naaswenner word aangewys nie, maar sy wen die gesamentlike derde prys vir haar manuskrip “Op parool”. In 2002 haal sy die kortlys vir die toekenning van die Sanlam-prys vir jeuglektuur.[18]

Eerbewyse

Die Departement van Kuns en Kultuur vereer haar in 1998 met 'n toekenning vir haar kulturele bydrae oor twintig jaar in die Oos-Kaap. In 1999 ontvang sy 'n oorkonde van die ATKV vir haar bydrae tot Afrikaans. Met haar vyftigste verjaarsdag in 2003[19] vereer die Port Elizabethse Amateur Toneelvereniging haar vir haar bydrae tot Afrikaans deur “Die storieboom”, 'n toneelstuk oor haar werk, op te voer.[20]

Publikasies [21]

1988 – Die wolf in die blare

1999 - Muur van berge

Verwysings

  1. LitNet ATKV-Skrywersalbum 5 Augustus 2009: www.litnet.co.za
  2. Kannemeyer, J.C. “Die Afrikaanse literatuur 1652-2004” Human & Rousseau Kaapstad en Pretoria Eerste uitgawe 2005
  3. Kannemeyer, J.C. “D.J. Opperman: 'n Biografie” Human & Rousseau Kaapstad en Pretoria Eerste uitgawe 1986
  4. Van Coller, H.P. (red.) “Perspektief en Profiel Deel 2” J.L. van Schaik-Uitgewers Pretoria Eerste uitgawe 1999
  5. Norval, Roline Die Burger: http://152.111.1.87/argief/berigte/dieburger/1999/03/15/10/3.html
  6. Van Coller, H.P. (red.) “Perspektief en Profiel Deel 3” Van Schaik-Uitgewers Pretoria Eerste uitgawe 2006
  7. Norval, Roline “Despatch kry plek in digbundel” “Oosterlig” 5 Oktober 1988
  8. Norval, Roline Die Burger: http://152.111.1.87/argief/berigte/dieburger/1995/09/28/11/3.html Geargiveer 31 Maart 2016 op Wayback Machine
  9. Brink, André P. “Rapport” 3 Februarie 1985
  10. Cloete, T.T. “Tydskrif vir Letterkunde” Jaargang 23 no. 2, Mei 1985
  11. Grové, A.P. “Tydskrif vir Geesteswetenskappe” Jaargang 25 no. 3, September 1985
  12. Le Roux, André “Die Burger” 31 Januarie 1985
  13. De Wet, K. (samest.) Vers & vrou. Kaapstad: Human & Rousseau. 2020
  14. Grové, A.P. “Beeld” 24 Mei 1999
  15. Badenhorst, Roline “Huisvrou van Despatch in prestige-digbundel” “Oosterlig” 26 November 1984
  16. Norval. Roline Die Burger: http://152.111.1.87/argief/berigte/dieburger/1997/02/17/4/6.html Geargiveer 31 Maart 2016 op Wayback Machine
  17. Norval, Roline Die Burger: http://152.111.1.87/argief/berigte/dieburger/1997/04/04/4/20.html
  18. Anoniem “Niemann wen prys” “Die Burger” 19 April 1979
  19. Greyling, Cecile Die Burger: http://152.111.1.87/argief/berigte/dieburger/2003/09/20/P7/02/01.html
  20. Norval, Roline “Eer vir PE se passiespel-digter” “Oosterlig” 5 Maart 1991
  21. Worldcat: http://www.worldcat.org/identities/lccn-n88-223976/

Inhoud is onderhewig aan CC BY-SA 3.0, tensy anders vermeld. Images, videos and audio are available under their respective licenses.
This article uses material from the Wikipedia article Anlen Marais, which is released under the Creative Commons Attribution-ShareAlike 3.0 license ("CC BY-SA 3.0"); additional terms may apply. (view authors).

🔥 Top trends keywords Afrikaans Wiki:

Spesiaal:SoekTuisbladCarles PuigdemontErfenisdag (Suid-Afrika)Tienie Holloway1444KinkhoesCarina HornSpesiaal:Onlangse wysigingsKategorie:Amerikaanse aktrises van die 21ste eeuKategorie:Amerikaanse manlike akteurs van die 20ste eeuInternasionale Vereniging van AtletiekfederasiesLys van Suid-Afrikaanse musikanteSlimfoonKeniaUniversalismeKunstenaarOlga TokarczukDEFAAndrew RannellsJeffrey DahmerBraaiSeksKategorie:Amerikaanse aktrises van die 20ste eeuCleopatra VIIKategorie:Amerikaanse manlike akteurs van die 21ste eeuBernice WestGordelroosLys van Afrikaanse skrywersSuid-AfrikaLozèreSwangerskapRefentse MorakeSeksposisieAfrikaansElandréSpringbokkeApartheidJaco JacobsVarkgriepKoorsWet op Bantoe-onderwysSywurmLys van Griekse mitologiese figureElizabeth II van die Verenigde KoninkrykNG gemeente HarareReënspinnekopRina HugoWiki:OmtrentLys van openbare vakansiedae in Suid-AfrikaYouTubePeach van PletzenFrançois SteynJan BlohmSpelerposisies in rugbyMiddelmisbruikLys van Suid-Afrikaanse voëls (alfabeties)Koos du PlessisSeksuele penetrasieLys van Suid-Afrikaanse skrywersNedersettingSiener van RensburgEjakulasieWindkragWiki:GebruikersportaalMaselsLongontstekingWiki:HulpSpoorloosVrymesselaryHenriëtta GryffenbergBosluisbytkoorsPlae van EgipteAlfabetiese lys van Suid-Afrikaanse bomeWiki:GeselshoekieVingerseksErfenisGroepsgebiedewetCarike Keuzenkamp🡆 More