Abraham Fouché (1889–1982) was ’n Afrikaanse digter.
Abraham Fouché was op 3 April 1889 in die distrik George gebore. Hier ontvang hy sy eerste onderrig op ’n plaasskooltjie. Later is hy argitek op Mosselbaai, winkelier in Langkloof en vir dertig jaar werksaam in die versekeringsbedryf. Nadat hy die doktorsgraad in Sielkunde behaal, vestig hy hom in Linden in Johannesburg en praktiseer as ’n terapeutiese sielkundige. Hy is in 1982 oorlede.
Sy kinderversies word in ’n opeenvolging van bundels versamel, eers die vroeë “Kleuterklankies” in 1938 en daarna in “Kleinverse vir kinders”, “Waterhoendertjies en ander kinderversies” en “Kinderversies”, terwyl hy in “Karetten die klipkopman” San-stories vir die jeug oorvertel.
Sy debuut as digter vir volwassenes maak hy met “Tiende van die oes”. Hierin bundel hy verse oor die natuurskoon en die verganklikheid van alle dinge, met die filosofiese onderbou om geleenthede aan te gryp. Die gedig “Tafels van vermenigvuldiging” word getoonset en professioneel opgeneem. Die San is die sentrale tema van sy gedigte in die bundels “Weeskinders van die hemelgod” en “Boesmanverse”, waarin hy uitvoerig gebruik maak van die beeldspraak en idioom van die San. Van sy verse word getoonset deur onder andere Stefans Grové. Sy gedigte word ook opgeneem in verskeie versamelbundels, waaronder “Groot verseboek”, “Uit ons digkuns”, “Kleuterverseboek”, “Nuwe Kleuterverseboek”, “Kleinverseboek”, “Nuwe Kleinverseboek”, “Land van sonlig en van sterre”, “Die mooiste Afrikaanse liefdesgedigte” en “Die Afrikaanse poësie in ’n duisend en enkele gedigte”.
Jaar | Publikasies |
---|---|
1938 | Kleuterklankies |
1956 | Tiende van die oes |
1964 | Kleinverse vir kinders |
1965 | Waterhoendertjies en ander kinderversies |
1967 | Weeskinders van die hemelgod |
1969 | Kinderversies |
Karetten die klipkopman | |
1972 | Boesmanverse |
This article uses material from the Wikipedia Afrikaans article Abraham Fouché, which is released under the Creative Commons Attribution-ShareAlike 3.0 license ("CC BY-SA 3.0"); additional terms may apply (view authors). Inhoud is onderhewig aan CC BY-SA 4.0, tensy anders vermeld. Images, videos and audio are available under their respective licenses.
®Wikipedia is a registered trademark of the Wiki Foundation, Inc. Wiki Afrikaans (DUHOCTRUNGQUOC.VN) is an independent company and has no affiliation with Wiki Foundation.