Die Abessiniese kat (Engels: Abyssinian) is ’n katras met ’n kenmerkende pels met ’n strepiepatroon.
Daar is baie stories oor hoe hulle ontstaan het en baie draai om Egipte, hoewel die naam na Ethiopië verwys. Die ware oorsprong is egter onseker. In die VSA is dit een van die gewildste korthaarrasse.
Abessiniese kat | ||||
Alternatiewe naam | Abessynse kat | |||
Herkoms | Kus van die Indiese Oseaan | |||
Ontstaan | Natuurlik | |||
Soort lyf | Oosters | |||
Pels | Kort | |||
Patroon | Strepies | |||
Wetenskaplike naam | ||||
Felis catus (huiskat) | ||||
|
Genetiese navorsing dui daarop dat die ras naby die kus van die Indiese Oseaan ontstaan het, waar koloniste wilde diere van handelaars kon gekoop het. Die ras is in Egipte ontwikkel.
Daar word soms geglo die ras het ontstaan uit een vroulike Egiptiese kat met die naam Zula wat in 1868 deur ’n Britse soldaat van die hawe in Alexandrië na Brittanje gebring is. Die teorie kan nie bevestig word nie omdat daar geen direkte verband is tussen Zula en die eerste kat wat in 1882 as ’n Abessiniese kat aangeteken is nie.
Baie bronne herhaal ook die storie dat Abessiniese katte ’n paar duisend jaar oud is en van Antieke Egipte kom omdat hulle baie lyk soos die katte in antieke skilderye en afbeeldings uit dié land.
Abessiniese katte is waaksaam en het redelike groot, gepunte ore en ’n taamlike lang stert. Die kop is breed en effens wigvormig. Die oë is amandelvormig en kleure sluit in goud, groen, haselneut en koper. Die pote is klein en ovaalvormig. Die bene is dun in vergelyking met die res van die lyf en die katte het ’n fyn beenstruktuur. Hulle is van medium-grootte en het sterk, lenige lywe met lang bene.
Die pels is van medium-lengte, dig en syagtig. Die Abessiniese kat en die langharige Somaliese kat se pelse is ewe ongewoon en te danke aan een dominerende mutante-geen bekend as Ta. Elke haar het ’n ligter basiskleur met drie of vier dele wat donkerder loop tot by die punt. Hierdie patroon word net by dié twee rasse en die Singapura aangetref.
Abessiniese katte is ekstrovert, aktief, spelerig, eiesinnig en intelligent. Hulle is gewoonlik nie skootkatte nie omdat hulle gedurig aan die gang is. Hulle is gewild onder telers en is suksesvolle skoukatte. Nie almal kan egter geskou word nie omdat die standaarde baie streng is en omdat hulle dikwels skaam is teenoor vreemdelinge.
"Abys", soos hul eienaars hulle dikwels liefderik noem, het baie liefde en interaksie met hul eienaars nodig en kan depressief raak as hulle onaktief is of te min aandag kry.
This article uses material from the Wikipedia Afrikaans article Abessiniese kat, which is released under the Creative Commons Attribution-ShareAlike 3.0 license ("CC BY-SA 3.0"); additional terms may apply (view authors). Inhoud is onderhewig aan CC BY-SA 4.0, tensy anders vermeld. Images, videos and audio are available under their respective licenses.
®Wikipedia is a registered trademark of the Wiki Foundation, Inc. Wiki Afrikaans (DUHOCTRUNGQUOC.VN) is an independent company and has no affiliation with Wiki Foundation.